

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 September 2013
Die Bo Brak Boerevereniging sê hulle is in die proses om ‘n amptelike klag voor te berei vir die kantoor van die Openbare Beskermer insake die haglike toestand van die R522-pad.
Dié pad was voorverlede week weer die toneel van ‘n gru-ongeluk waar drie van die streek se inwoners, mnre. Gilbert Gerhardt, Rick Coetzee en Innocent Hove, dood is. “Die boerevereniging ondersoek die moontlikheid dat die LUR vir Vervoer verantwoordelik gehou word vir die mensverlies en skade wat hierdie pad tot gevolg het,” sê die boerevereniging in ‘n persverklaring.
Die vereniging verduidelik dat daar reeds vir jare probleme ondervind word met die padreserwe wat deur sekelbos en bome toegegroei word. “Onderhoud vanaf die Paaie Administrasie word nie gedoen op hierdie pad nie,” sê die boerevereniging. Hulle het deur middel van maandverslae hierdie pad reeds vanaf April 2011 gerapporteer. Vanaf Januarie vanjaar het hulle foto’s van die oorgroeide toestand van die pad aan hul verslae geheg en ‘n vergadering tussen die TLU Noord Streek en die LUR vir Vervoer is gehou op 8 Februarie in Polokwane. “Ten spyte van herhaalde versoeke, is geen aksies van die skoonmaak van die padreserwe onderneem deur die Paaie Agentskap nie,” sê die boerevereniging. Hulle sê die situasie het nou onuithoudbaar geword vanweë die talle ernstige en noodlottige ongelukke op die pad, om nie eers te praat van skade wat deur wild en rondloperdiere aan voertuie veroorsaak word nie.
“In Junie is Marida Pretorius (21) in ‘n grusame ongeluk oorlede, nadat ‘n boom van ongeveer 150mm dik (wat teen die pad in die padreserwe gegroei het) … haar motor in twee gebreek het,” sê die boerevereniging. Ná die ongeluk het hulle ‘n persverklaring uitgereik waarin hierdie aangeleentheid onder die aandag van die publiek gebring is. ‘n Vergadering met die areabestuurder van die Paaie Administrasie het derhalwe op 6 Augustus gevolg.
“Daar is bevestig dat pogings aangewend sal word waarin ‘n twee-meter area aangrensend tot die padreserwe skoongemaak sal word om sodoende die pad veilig te maak. Die spanne is met slegs kapmesse op die gebied geplaas waartydens ‘n afstand van ses meter binne ‘n week gekap is. Die spanne het nie weer opgedaag nie, en daar is aan die boerevereniging kennis gegee dat die vragmotor buite werking is wat die spanne vervoer. Geen verdere aksies is deur die Paaie Administrasie aangewend om die veiligheid van die padverbruiker te bewerkstellig nie,” sê die boerevereniging.
Die boerevereniging het met hartseer verwys na die ongeluk op 26 Augustus waarin mnre. Gerhardt, Coetzee en Hove op dieselfde pad oorlede is. “Dit is vir die gemeenskap ‘n bron van kommer dat die broodwinners uit hierdie gesinne weggeruk is. Wie gaan nou hierdie gesinne, waar minderjarige kinders is, onderhou?” wou die boerevereniging weet.
Die vereniging het in hul persverklaring weereens die paaie administrasie gewys op hulle wetlike verpligting ingevolge wetgewing wat hulle verplig om alle provinsiale paaie instand te hou en veilig te maak vir plaaslike gemeenskappe. “Na herhaalde voorvalle wat op hierdie roete voorgekom het, is dit duidelik dat hierdie roete nie voldoen aan die wetsbepalings soos uiteengesit nie,” sê die boerevereniging.
Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles.

ADVERTISEMENT:
