

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 September 2013
“Dit is ‘n getuienis, want ons het gebid dat die werke van die duisternis aan die lig sal kom. Die vyand is besig om sy knieg te buig in hierdie skool,” sê pastoor Marcel van Niekerk, nadat hy gehelp het om ‘n dagga-transaksie by die Hoërskool Louis Trichardt in die wiele te ry.
Laas Vrydag, omstreeks 10:20, wou past. Van Niekerk die skoolterrein deur die hoofhek verlaat om in sy motor te klim. Uit die hoek van sy oog het hy ‘n groepie kinders by die omheining sien staan. “Die Heilige Gees het vir my gesê dat ek moet terugdraai en gaan kyk wat daar aangaan,” sê Van Niekerk. Hy het gesien hoedat ‘n man buite die heining ‘n khaki-groen pennesakkie aan die skoolkinders gee, iets in ruil daarvoor neem en wegstap. Die groepie het bestaan uit ‘n meisie en twee seuns.
‘n Onderwyser, me. Johanna Steyn, en Van Niekerk het die drie voorgekeer en uitgevra, waarop hulle geantwoord het dat hulle vir die jongman geld gegee het om vir hulle kos te gaan koop. Van Niekerk het die meisie gevra om die pennesakkie aan hom te oorhandig, wat sy gewilliglik gedoen het. Binne-in was ‘n paar gerolde “zolle” en een plastieksakkie met droë blare.
Terwyl Steyn die kinders kantoor toe geneem het, het Van Niekerk die jongman per motor agternagesit. “Ek het hom by die munisipale parkie in Forestryweg gekry en hom gevra om in my motor te klim, wat hy sonder teëstribbeling gedoen het. Ek het hom skool toe geneem,” sê Van Niekerk.
Die skool se adjunkhoof, mnr. Theo Muller, het Maandag bevestig dat drie Graad 11 leerlinge van dagga voorsien is deur ‘n oud-leerling wat nie daar gematrikuleer het nie. Op die meisie se iPad was die boodskappe te sien waarmee sy die handelaar skool toe genooi het en dié se antwoord dat hy die “joints” het en vir hulle wag. Die skool het die polisie ontbied.
Kapt. Maano Sadiki, lid van die provinsiale woordvoerderspan, het hierdie week bevestig dat ‘n 18-jarige meisie en ‘n 20-jarige man daarvan aangekla is dat hulle dagga in hulle besit gehad het. “Beide het ‘n skulderkenning geteken en elk ‘n boete van R300 betaal. In minder ernstige gevalle kan daar ‘n skulderkenningsboete betaal word. Hulle het wel nou ‘n rekord. Daar was 15 'zolle' dagga en een plastieksakkie los dagga,” het Sadiki gesê. Die twee seuns is nie aangekla nie. Sadiki het ook ‘n beroep op ouers, voogde, kinders, skole en beheerrade gedoen om leerlinge daarop te wys dat misdaad nie betaal nie.
Die skool beskou die saak in ‘n baie ernstige lig. Al die kinders se ouers is onmiddellik verwittig. “Ons het aan die meisie se ouma verduidelik dat, by ‘n volgende oortreding van hierdie aard, ons haar kleindogter sal vra om die skool te verlaat. Ons het al in die verlede met haar gepraat oor gedragsake. Sy het om verskoning kom vra en het besef dat sy die skool in ‘n swak lig gestel het,” sê Muller.
Die skool praat gereeld met die leerlinge oor dwelmaangeleenthede. Hulle beplan ook om vroeg in volgende kwartaal die narkotikaburo en die polisie te laat kom vir ‘n praatjie oor die gevare en gevolge van dwelmmiddels, en die prosedure wanneer ‘n persoon gevang word. Die skool sê dat ouers moet besef dat hulle hul kind by die polisiestasie sal moet gaan haal. “Ons gaan ook poog om so een maal per maand die polisie en die honde-eenheid die terrein te laat deursoek om hierdie probleem te beperk of op te los. Ons is positief dat hierdie saak omgekeer en gewen gaan word. Ons beplan ook ‘n vaste kantoor vir past. Marcel en sy span op die skoolterrein,” sê mnr. Muller.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
