

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 June 2003
MUSINA – Drie sekuriteitsbeamptes is hier beseer in 'n bloedige skietgeveg tydens 'n mislukte transito-roof op die pad tussen Musina en die Tshikondeni myn.
Twee van die beseerde beamptes, mnre. David Kwinda en Thomas Muelelwa, ondergaan intensiewe rekonstruksie operasies, nadat hulle ernstige mond en keel wonde in die gewapende aanval opgedoen het. Mnr. Hermanus Schoeman, bestuurder van die sekuriteitsonderneming Pro-Track en Messina Alarms, het self 'n nekwond opgedoen in die verwoede skietgeveg.
Mnr. Schoeman was verlede Vrydag in die voorste van twee voertuie wat geld na 'n winkel by die Tshikondeni myn vervoer het. Hy het twee sekuriteitsbeamptes agterop sy bakkie gehad. Net buite Musina, naby die brug oor die Sandrivier op die Tshipise pad, is 'n verdagte voertuig opgemerk wat hulle gevolg het. Daar was ses insittendes in die voertuig. Pogings om die agtervolgers af te skud was tevergeefs en in 'n stadium het die agtervolgers langs die bakkie inbeweeg om verby te steek.
Toe die verdagtes se voertuig reg teenoor die bakkie was, het die insittendes losgebrand met AK47-aanvalsgewere. Hulle het verbybeweeg en 'n end voor die bakkie in die teerpad stilgehou. 'n Verwoede skietgeveg het gevolg, nadat die sekuriteitsvoertuig ook tot stilstand gebring is.
Mnr. Schoeman het met waardering vermeld dat sy twee kollegas onmiddellik op sy opdragte gereageer het om stelling agter die bakkie in te neem en die boosdoeners se vuur te beantwoord, ten spyte van die feit dat albei in daardie stadium reeds gewond was en ernstig gebloei het.
"Hul gedissiplineerde optrede het gehelp dat ons die rowers lank genoeg kon terughou om ons lewens te red," het mnr. Schoeman gesê. Hy het self in die veld langs die teerpad inbeweeg en gedurende die skietgeveg gesien hoe 'n tweede voertuig van voor op die toneel verskyn. Die rowers het van die roofvoertuig ook in die veld inbeweeg in 'n klaarblyklike poging om die sekuriteitsbeamptes te omsingel.
Terwyl die skietgeveg aan die gang was, het mnr. Schoeman sy kollegas, wat van agter in 'n gepantserde voertuig onderweg was, gewaarsku en hulp ontbied. Die rowers het vinnig die aftog geblaas toe versterkings begin opdaag. Een van die roofvoertuie is later naby die Schuitdrif afdraai op die Tshipise /Bokmakierie-pad uitgebrand gevind.
Dit was die derde gefnuikte transito rooftog op die pad tussen Musina en Tshikondeni. In twee vorige aanvalle is een sekuriteitsbeampte dood. Mnr. Schoeman sê in die vorige roofpogings was groot bedrae loongeld van die myn op die spel. Hy sê sedertdien maak die myn uitsluitlik van elektroniese oorplasing van lone gebruik. Die geld wat Vrydagoggend in die gedrang gekom het was bloot die kleingeld vir 'n winkel op Tshikondeni.
"Dit is ironies dat die rowers in die jongste voorval letterlik mense- lewens op die spel geplaas het vir kleingeld."
Mnr. Schoeman is na die voorval saam met sy twee kollegas na die hospitaal op Musina gebring. Mnr. Kwinda is aanvanklik na die private hospitaal in Polokwane oorgeplaas met ernstige gesigbeserings. In 'n noodoperasie is 'n koeël uit sy skouer verwyder en 'n probleem met asemnood voorlopig gestabiliseer. Mnr. Muelelwa is in die hospitaal op Musina opgeneem met 'n ernstige mondbesering. 'n Geweerskoot wat van die sykant van die voertuig afgevuur is, het hom dwars in die mond getref en sy onderlip en twee tande ernstig beskadig. Beide mnr. Muelelwa en mnr. Kwinda, van wie die kakebeen en ander gesigbene vergruis is, is vandeesweek afgevoer na Pretoria, waar hulle intensiewe rekonstruksie operasies moet ondergaan.
Mnr. Schoeman is na behandeling vir 'n vleiswond aan sy nek, weer terug na Tshikondeni om die kleingeld by die winkel te besorg. 'n Gepantserde voertuig van die SA Weermag het sy voertuig begelei, terwyl 'n uitgebreide soektog na die gewapende rowers onmiddellik deur die SAPD en Weermagelemente onderneem is. Twee helikopters het aanvanklik aan die soektog na die rowers deelgeneem. Intussen word berig dat die polisie 'n moontlike verband tussen die transito rooftog naby Musina en 'n rooftog vroeër die week by Dendron ondersoek.
In die gewapende rooftog by Dendron was, volgens voorlopige aanduidings, vyf gewapende rowers betrokke. Die polisie het vier aangekeer en een het na bewering selfmoord gepleeg. Ballistiese toetse sal kan aandui of die wapens in die twee rooftogte dieselfde was.

ADVERTISEMENT:
