

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 June 2003
LOUIS TRICHARDT – 'n Roudiens vir dr. Marc Smalle, bykans legendariese plaaslike medikus en kunsversamelaar, is Dinsdag hier onder blyke van groot openbare deelname in die N.G. Kerk Louis Trichardt-gemeente gehou. Hy is Saterdag, 31 Mei oorlede, na 'n merkwaardige grasietydperk sedert hy in April vanjaar gediagnoseer is met gevorderde longkanker.
Vroeër verlede week het die plaaslike Rotariërs 'n spesiale eretoekenning aan dr. Smalle oorhandig om aan hom erkenning te gee vir sy buitengewone dienslewering aan die gemeenskap. Die toekenning is aan hom oorhandig in sy gesinswoning op die plaas Hilltop net buite Louis Trichardt, waar hy intensiewe sorg tuis ontvang het.
Dr. Smalle het indertyd die nuus van sy terminale siekte met 'n merkwaardige, maar kenmerkende nugterheid en kalmte aanvaar en end-uit met groot waardering en welwillendheid melding gemaak van die gesindheid van alle bevolkingsgroepe op Louis Trichardt, "wat dit vir my moontlik gemaak het om dokter te kon wees."
Na die nuus, in die helfte van April vanjaar, oor dr. Smalle se ernstige siekte, het alle sektore van die plaaslike gemeenskap, in 'n spontane opwelling van deernisvolle goeie wense, uitgereik na 'n geliefde arts wat bekend en bemind geraak het deur sy soms bykans bomenslike beskikbaarheid te alle tye en vir elkeen wat nood beleef het.
Gelowige inwoners, oor alle grense heen, was sedert die nuus van dr. Smalle se siekte verenig in 'n buitengewone gebedsaksie. 'n Stroom van goeie wense, kaartjies, blomme en oproepe het getuig van die gemeenskap se intense meelewing.
Die toewyding en integriteit wat sy dienslewering in die gemeenskap gekenmerk het, was end-uit deel van sy lewenstyl. 'n Spesialis in Pretoria, dr. Vic Hesse, het na sy ontmoeting met dr. Smalle in 'n skriftelike huldeblyk gesê: "Ek het meer van jou geleer as wat ek vir jou kon doen; ek bewonder jou moed; ek bewonder jou integriteit; ek bewonder jou lewenskuns."
Dr. Smalle was vir meer as drie dekades in diens van die gemeen-skap van Louis Trichardt. Gedurende dié tydperk het hy vrywillig omgesien na die gesondheid van die bejaarde inwoners van Ons Tuiste Ouetehuis en het sy onmiddellike beskik-baarheid te alle tye van die dag en nag vir almal – ook diegene wat opvallend nie instaat was om hom vir sy dienste te vergoed nie – legendaries geword. Marc Smalle was 'n huishoudelike naam onder die inwoners.
Met die roudiens vandeesweek het ds. Harm Bonnema Filippense 1:20b-21 as teksvers gekies: "Ek wil ... deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe is vir my Christus en om te sterwe, is vir my wins." Ds. Phillip Horn het die bedankings behartig.
Die Smalle-gesin, Dolla, Lizette, Antonie, Jacques, Michelle, Retha, Shane en Deon het hul dank, waardering en liefde betuig teenoor die gemeenskap van Soutpansberg.
"Ons weet daar was baie van dr. Marc se vriende en pasiënte wat graag by sy diens wou wees en vir hom wou groet op sy siekbed. Ons as familie wil vir Ons Tuiste en sy mense dankie sê omdat hulle soveel liefde vir dr. Marc gebring het. Vir julle almal sê ons dankie vir jul ondersteuning, gebede en liefde. Dit het soveel vir ons beteken om te sien hoeveel liefde is in julle gemeenskap van Louis Trichardt vir Marc."
Onder die draers by die roudiens was, benewens gesinslede en vriende, ook twee kollegas van dr. Marc Juul Leo Geert Smalle.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
