ADVERTISEMENT:

 

Meer verwarring rondom dorp se naam

 

News  Date: 06 June 2003

 

LOUIS TRICHARDT - Wat is die regsgevolge van 'n provinsiale en plaaslike owerheid wat die voorskrifte van die Suid-Afrikaanse Parlement minag ten opsigte van geografiese plekname?

Hierdie vrae tree in die huidige fiasko oor die naam van die dorp Louis Trichardt sterk op die voorgrond, nadat dit aan die lig gekom het dat verskeie amptelike instansies of onkundig is, of hulle oënskynlik weinig steur aan die voorskrifte van Wet 118 van 1998, in verband met die standardisering van Geografiese Plekname in Suid-Afrika. Regeringspublikasies op nasionale en provinsiale vlak, die SABC en die plaaslike munisipaliteit gaan oënskynlik ongesteurd voort om op te tree asof die uiters omstrede naam Makhado reeds amptelik aanvaar is, terwyl teenstand teen die naam besig is om in erns en omvang toe te neem.

In die jongste amptelike poskode lys van die Suid-Afrikaanse Poskantoor word twee Makhado plekname aangegee. Die eerste beweerde Makhado pleknaam dra foutiewelik die poskode van die dorp Louis Trichardt (0920). Die tweede Makhado pleknaam, wat vermoedelik verwys na die enigste dorpie in Suid-Afrika wat hierdie omstrede naam wettiglik dra, het 'n heeltemal ander poskode (0955). Die Makhado Munisipaliteit, wat in opdrag van die provinsiale premier en LUR besluit het dat die naam van Louis Trichardt moet verander, gebruik deesdae ook die naam Makhado met die Louis Trichardt poskode vir amptelike korrespondensie, terwyl die munisipale raad duidelik bewus is van die feit dat die dorp se naam nie verander het nie.

Water en ligte rekenings aan inwoners van Louis Trichardt dra nou die posadres van Makhado, met die poskode van Louis Trichardt. Dit bring mee dat die posversendings van betalings aan die raad die gevaar loop om 'n tydrowende ompad te loop, as inwoners sou besluit om die korrekte poskode (0955) by die inkorrekte pleknaam op die munisipaliteit se koeverte te gebruik. Goed gemotiveerde versoeke vir sulke naamsveranderings moet ingevolge die staande prosedure aan die statutêre raad voorgelê word, wat dan 'n aanbeveling aan die betrokke minister kan maak. Eers nadat die minister volgens die voorgeskrewe prosedure die naamsverandering in die amptelike koerant laat publiseer het, begin die naamsverandering wettig word. Selfs na sodanige publikasie maak die wetgewing voorsiening vir 'n verdere tydperk van dertig dae om enige verdere besware te kan aanhoor. Eers na verloop van hierdie grasietydperk, kan die naam wettiglik as verander beskou word.

Intussen moet gereelde gebruikers van die nuwe tolpad in aanbou tussen Louis Trichardt en Musina gereeld hul oë knip oor erg verwarrende naamborde wat hul verskyning maak. Alle ou Louis Trichardt-naamborde is aanvanklik weens misleidende inligting verander na Makhado – die naam van 'n dorpie sowat 40km noord van Louis Trichardt. Die Nasionale Padagentskap het die fout onmiddellik reggestel, aanvanklik deur bloot die foutiewe naam met swart plastiek toe te plak. In die beperkte spasie wat deur die aanvanklike fout geskep is, het Louis Trichardt nou LTrichardt op die borde geword. Die dorp Louis Trichardt se regte naam is steeds Louis Trichardt.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines