ADVERTISEMENT:

 

Inwoner ontvang R3,7 miljoen rekening

 

News  Date: 06 June 2003

 

LOUIS TRICHARDT – 'n Elektrisiteitsrekening van meer as R3,7miljoen het mnr. Beauty Kotzé van die Rondebosch hoewes 'n onaangename skok besorg. "Net die BTW op die rekening alleen is meer as R88 000," het mnr. Kotzé Maandag verontwaardig opgemerk.

Beauty en Elize Kotzé se elektrisiteitsrekening op hul hoewe wissel normaalweg tussen R1 800 en R2 400 per maand. Die rekening vir Mei ten bedrae van miljoene was dus heeltemal skokkend.

"Dit lyk my ek moet die hele Louis Trichardt se tariefverhogings finansier!" Mnr. Kotzé sê dat dit wil voorkom of Rondebosch geteiken word. By drie geleenthede is die kragkabels op sy hoewe gesteel en gedurende April het die Makhado Munisipaliteit al die kabels in die elektrisiteitsmeter kom vervang. Die vierde keer, aan die begin van Mei, het dief se kind spore gemaak toe mnr. Kotzé skote afgevuur het.

"My krag het weer skielik afgegaan. Ek het by my bure gehoor dat hulle krag het en het skote naby die meter afgevuur. Hulle het weggehardloop, maar toe kabels by Gerhard Grasdakke naby my gaan steel."

Mnr. Kotzé sê dat hy ook met sy telefoonrekening sukkel met die gedurige "Saoedi Arabië-oproepe". Verder sê hy dat hulle baie las van Zimbabwiërs het. Die kommando's het al twee keer uitgekom in verband met die Zimbabwiërs. Die elektrisiteitsrekening van R3 786 162 was egter die toppunt.

'n Woordvoerder van die Makhado Munisipaliteit het vandeesweek erken dat hulle 'n fout met die rekening begaan het. Die vermoede bestaan dat die fout ingesluip het by die meterlesing of die invoer van die meterlesing in die rekenaar. Normaalweg word abnormale verbruik maandeliks gelys en deur 'n betrokke amptenaar nagegaan.

"Hierdie rekening se abnormale verbruik was nie op die lys nie. Ons vra om verskoning," het die woordvoerder gesê.

Die elektrisiteitsverbruik op die rekening is aangegee as 9 993 003 eenhede. Die verbruik sal in die boeke nagegaan word en indien nodig, sal die meterleser ook ingeroep word. Die woordvoerder se opinie was dat die fout by die invoer in die rekenaar in gekom het.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines