

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 September 2013
Inwoners mag reeds kennis dra van die Tsitandani tehuis vir kinders wat in Tshikota deur die NG Moedergemeente, in samewerking met verskeie ander instansies, op die been gebring is. Dit verskaf ‘n heenkome vir hawelose swart kinders, meestal van Zimbabwe.
Hier kry hulle kos en slaapplek, maar daar word ook omgesien na hulle geestelike welstand. Die projek het al ver gevorder, maar daar is nog baie leemtes en gebreke waaraan aandag gegee moet word.
Een van die leemtes is ‘n toesluitkas (locker) vir elke kind waarin hy sy besittings veilig kan wegsluit. Die bietjie wat hulle soms het, staan gevaar om ook nog gesteel te word, dus is so ‘n sluitkas regtig noodsaaklik. Die projek het egter nie geld gehad om vir elke seun so ‘n sluitkas te koop nie. Daar sou ‘n plan beraam moes word om dit moontlik te maak.
Sowat ‘n maand of wat gelede het ds. Johann Fourie en sy vrou, Karlien, vir hulle kinders gaan kuier in Davis in die VSA. Daar het een van sy dogter se Suid-Afrikaanse vriendinne hulle gekontak en hulp aangebied namens haar gemeente, wat jaarliks ‘n projek loods om mense in Afrika te help. Hulle wou egter meer inligting oor die projek hê voordat hulle begin geld insamel – iets wat die kinders sou motiveer om betrokke te raak. Ds. Johann het toe, met behulp van gemeentelede hier plaaslik, begin materiaal bymekaarmaak en ‘n aantal videos saamgestel wat hulle aangestuur het en ook op Youtube geplaas het. Die videos is vertoon tydens ‘n vyf-dag-lange kamp wat die gemeente daar se kinders bygewoon het. Ds. Johann was ook daar byderhand om vrae te antwoord oor die projek.
Die videos het die ding gedoen en die kinders by die kamp het geesdriftig begin geld insamel. Een van die meer unieke maniere was twee meisies wat hulle troetelpaddas teen mekaar laat resiesspring het en die buurt se mense moes toegangsgeld betaal om daarna te kyk. Die geskatte opbrengs van dié betrokke inisiatief was sowat $50. Al die geld wat ingesamel is, is in ‘n groot, plastiese houer geplaas en almal kon sien hoe dit daagliks meer word. Dit kon egter nie getel word voor die projek tot ‘n einde gekom het nie.
Aan die einde van die projek is ‘n totaal van $2 970 ingesamel – net mooi genoeg om vir al die seuns elkeen ‘n sluitkas te koop. Die gemeente is ds. Johann baie dank verskuldig vir sy harde werk, en ook vir die gemeente in die VSA wat soveel moeite gedoen het om tot die projek by te dra.

ADVERTISEMENT:
