

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 September 2013
Na aanleiding van ‘n onlangse berig in ‘n nasionale dagblad wat melding maak van ‘n skeuring binne die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK) in Makhado (Louis Trichardt), heers daar tans verwarring by talle inwoners oor wat presies die ware stand van sake by die kerk is.
Dit is reeds bekend dat die NHK hier jare gelede in twee verdeel het, wat gelei het tot die totstandkoming van twee gemeentes, die NHK Louis Trichardt en die NHK Zoutpansberg (ZPB), wat uit dieselfde kerkgebou dienste gehou het.
In die 6 September uitgawe van Beeld word daar berig oor ‘n splintergroep, die steedsHervormers, wat nou met die ZPB-gemeente baklei oor die kerkgebou en kollekte. Die steedsHervormers het weggebreek van ZPB-gemeente en die Broodboom Kerkvereniging gestig, onder leiding van ds. Ronel Eckard. Hulle is nou in die proses om die eienaarskap van die kerkgebou na Broodboom oor te dra.
Eckard, wat leraar van die ZPB-gemeente was, het in Augustus bedank as predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA). Hierdie tweespalt het ‘n ouderling van ZPB-gemeente, mnr. Kerneels Kern, genoop om hom as individu te wend tot die Hooggeregshof in Pretoria, waar hy ‘n aansoek ingedien het teen Broodboom en ds. Eckard om hulle in hul aksies te stuit. Die aansoek is egter voorverlede week deur die hof van die hand gewys omdat dit nie dringend is nie.
Kern het by navraag verlede week aan die Zoutpansberger gesê dat hy, na gesprek met sy prokureurs en advokaat, nie werklik in hierdie stadium wil kommentaar lewer oor die saak nie. “Die [hof]aansoek het twee gedeeltes gehad. Die een is ‘n dringende aansoek, wat van die hand gewys is weens dringendheid, en dan is daar ‘n hoofsaak. Die hoofsaak wat ek gemaak het, waarin ek die applikant is, is verdedig, so dit is nou ‘n hangende saak en ek is nie op my gemak om nou enige iets daaroor te sê nie,” het Kern gesê. Hy het egter bygevoeg dat wanneer die saak afgehandel is, hy meer as bereid is om daaroor te praat.
Eckard is ook genader vir kommentaar. Volgens haar kom die huidige spanning in die NHKA veral sedert die tagtigerjare. “Die spanning bestaan as gevolg van verskillende teologiese strominge. Dit sluit onder meer die bevraagtekening van die Goddelikheid van Jesus Christus in…,” het Eckard gesê.
Sy het verduidelik dat die steedsHervormers lidmate en predikante is wat steeds Hervormers wil wees soos hulle nog altyd was. “Hulle aanvaar die Bybel as die Woord van God en staan by die Belydenis van die kerk van alle eeue. Onverklaarbaar sien die NHKA die steedsHervormers as ‘n bedreiging wat gestuit moet word. Die steedsHervormers, of dan nou die onafhanklike Hervormde gemeentes, stig nie af van die NHKA nie, maar maak hulle los van die leiding van die kerk,” het Eckard gesê. Sy het bygevoeg dat omstandighede in die NHKA, en “veral die optrede van die Algemene Kommissie”, dit vir haar onhoudbaar gemaak het en dat sy daarom as predikant van die NHKA bedank het.
Eckard sê die gemeentelede van Gemeente Zoutpansberg, “met die uitsondering van ‘n splintergroepie onder leiding van meneer Kerneels Kern”, het by verskeie geleenthede hulle uitgespreek teen die pad wat die NHKA nou loop. “Daar is dan ook ‘n vereniging gestig, die Broodboom Vereniging, waarvan alle gemeentelede lede is. Die gemeente het kerkordelik op ‘n gemeentevergadering besluit om hul roerende en nie-roerende bates oor te dra na die vereniging. Die besluit is met ‘n oorweldigende meerderheid van stemme geneem,” het Eckard gesê.
Volgens Eckard het die oordrag van die gemeentelike eiendom geen invloed op hul buurgemeente, Louis Trichardt, nie. “Daar word steeds voortgegaan met instandhouding van die geboue en die helfte van die munisipale belastings word steeds vereffen soos altyd. Alle gemeentelike aktiwiteite gaan rustig voort soos normaal. In teenstelling met koerantberigte, heers daar in die gemeente ‘n groot rustigheid, maar vasberadenheid,” het Eckard gesê.
Sy het verwys na Kern se dringende hofinterdik teen haar en die vereniging om nie die eiendom oor te dra op die vereniging se naam nie, en om haar te verhinder om te preek. “Die gemeente het, weereens met ‘n oorweldigende meerderheid, besluit om die aansoek teen te staan en die aansoek is in die Hooggeregshof van Pretoria met koste van die hand gewys. Volgens die regter, regter Frans Kgomo, was die saak nie dringend, soos Kern aangevoer het, nie. Die regter het ook daarop gewys dat Kern ‘ill-advised’ was in die saak. Die regter het obiter gemeld dat daar regsfeite is wat die aansoeker nie in ag geneem het nie,” het Eckard gesê.
Volgens Eckard het Kern dieselfde aansoek weer op die rol geplaas in die dringende hof vir aanhoring op 13 September.
“Daar is geen uitspraak gegee oor die vraag of die oordrag regsgeldig sal wees nie. Die effek van die uitspraak is bloot dat die oordrag van die eiendom van Zoutpansberg-gemeente by ooreenkoms oorgehou word tot die hof daaroor bereg het,” het Eckard gesê.
Ds. Phillip Horn, NHK Louis Trichardt se leraar, het ook gereageer. “Die versteurdheid waarvan Beeld berig is nie ter sake in gemeente Louis Trichardt nie. Ons gaan voort soos altyd in die NHKA, gemeente Louis Trichardt. Daar is by ons geen kommer dat hierdie gemeente nie sal bly soos hy is nie,” het Horn gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
