

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 September 2013
Ai, as mens darem net die breinkrag wat skelms gebruik om mense uit hul swaarverdiende geld te swendel op 'n positiewe wyse kon inspan ...
Uit alle oorde, hetsy die Internet of via die selfoon, word mense op ‘n daaglikse basis gebombardeer met deposito-slenters, vals belastingterugbetalings en boodskappe van kitsmiljoenêrskap – alles slenters.
Die Zoutpansberger was die afgelope week amper die slagoffer van so ‘n deposito-slenter, maar danksy wakker administratiewe personeel is die boosdoener se kriminele intensie gefnuik. Die verhaal het egter ‘n lang aanloop gehad.
Op 31 Julie vanjaar ontvang die koerant ‘n e-pos van ene mnr. William Maseko in Sandton, Johannesburg, wat versoek dat die koerant hom ‘n kwotasie gee vir die plasing van vier advertensies vir sy onderneming, Easy Car Finance. Hy verskaf sy ID-nommer (720103 5753 08 3) en straatadres (6 Corlett Drive, Sandton) – alles wat deur die koerant verlang word voor die plasing van enige advertensie (daar sou later gevind word dat ‘6 Corlett Drive’ bloot ‘n blok woonstelle is).
Dieselfde dag word die advertensie saamgestel en aan Maseko gestuur vir goedkeuring en betaling. Maseko laat weet dat hy betaal het en e-pos ‘n ABSA bewys van betaling aan die koerant. Die koerant tel egter op dat, instede van die koerant se bankrekeningnommer, verskyn die koerant se telefoonnommer op die “Bewys van Betaling”. Toe Maseko hieroor gekonfronteer word, maak hy verskoning en onderneem om die fout reg te stel.
Op 15 Augustus maak hy weer ‘n “betaling” en e-pos ‘n betalingsbewys aan die koerant. Sy advertensie verskyn op 16 Augustus in die Limpopo Mirror.
Die koerant raak agterdogtig weens die feit dat, ten spyte van Maseko se "betalingsbewys", die betaling nie reflekteer op die koerant se bankstaat nie. Alle verdere advertensieplasing word hierna gestaak, nadat Maseko nie weer sy telefoon antwoord nie. Reeds toe vermoed die koerant vuilspel.
Uit die bloute kry die koerant verlede Donderdag (12de) ‘n oproep van Maseko. Die keer beweer hy dat hy “per ongeluk” R24 000 in die koerant se rekening gedeponeer het en versoek die koerant om dit asseblief aan hom terug te betaal. As bewys e-pos hy (blykbaar het hy intussen beide sy bank en besigheid se naam verander) ‘n FNB-betalingsbewys in die naam van Easy Car Motors.
Maseko mag dalk vergeet het met wie hy praat, maar die koerant het nie vergeet wie die stem aan die ander kant van die telefoon was nie. Sommer dadelik word Maseko gevra waarom hy nog nie sy advertensie betaal het nie. “O, ek het nie geweet ek skuld julle geld nie ... trek dit sommer van my deposito af en betaal die res oor aan my ...” deel Maseko die koerant mee.
Maar die koerant is darem nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Maseko word aangesê dat hy maar bietjie moet wag. Die koerant se bankstate word nagegaan en inderdaad reflekteer ‘n betaling van R24 000 van Maseko. Die enigste probleem is dat Maseko aangevoer het dat dit ‘n elektroniese oorbetaling was, maar dat die bankstaat toon dat dit ‘n tjek inbetaling was. Twee lyne onder hierdie inskrywing op die bankstaat reflekteer ‘n “onbetaalde” tjekbetaling, ten bedrae van dieselfde bedrag (R24 000), deur Laerskool Middelburg.
Die koerant skakel toe vir Laerskool Middelburg, en toe die nuus ... daar was ‘n inbraak by die skool waartydens die skool se personeelfonds tjekboek gesteel is. Die tjek was inderdaad gesteel.
Met ‘n tikkie opsetlikheid skakel die koerant Maseko en deel hom mee dat die koerant baie graag sy geld aan hom wil terugbetaal, maar dat dit bietjie moeilik gaan wees, aangesien die tjek wat hy gebruik het, gesteel is. Hierop druk Maseko die foon dood en, nodeloos om te sê, kon hy nie weer bereik word nie. Hy wil seker nie besigheid doen met so ‘n “onprofessionele” maatskappy nie.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
