

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 September 2013
'n Polisieman, wie se rondloperbeeste die oorsaak van 'n gru-botsing was waarin vyf mense oorlede is, is voor stok gekry.
‘n Adjunk-offisier van die Tshilwavhusiku polisiestasie, wie se naam weerhou word op versoek van die provinsiale polisie se kommunikasiekantoor, is met R1 000 beboet ná bevind is dat sy beeste die oorsaak was van dié ongeluk. Die ongeluk het op 18 Mei sowat 10km buite Makhado (Louis Trichardt) plaasgevind toe die bestuurder van ‘n vragmotor uitgeswaai het vir ‘n trop rondloperbeeste. Die vragmotor het letterlik bo-oor ‘n aankomende sedan gery. Die bestuurder en voorste passasier in die sedan is onthoof. Al vyf insittendes in die sedan is op slag dood.
Die boete wat die skuldige polisieman betaal het, was ‘n skulderkenningsboete omdat sy beeste nie gebrandmerk was nie. Geen ander klagte is teen hom gelê nie. Provinsiale polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het Maandag dié boete bevestig. "Dit sal nou afhang of die oorledenes se familie die saak wil verder vat en 'n klag wil lê," het Sadike bygevoeg.
Intussen is die ondersoek na die oorsaak van nog 'n gru-ongeluk waarin drie inwoners van die dorp in Augustus oorlede is, nog nie afgesluit nie. Gilbert Gerard (43), Rick Coetzee (64) en Innocent Hove is op 26 Augustus oorlede in ‘n motorongeluk op die Vivo-pad. ‘n Trop rondloperbeeste wat glo ook aan ‘n polisiebevelvoerder behoort, dra na bewering die blaam vir die ongeluk en nie ‘n wilde dier wat oor die pad gehardloop het nie.
Die Zoutpansberger het weer die polisie genader vir kommentaar oor dié voorval, nadat inligting bekendgemaak is van die polisieman wat beboet is vir sy beeste. Kapt. Sadike wou hom nie uitlaat oor die ondersoek nie. Daar word nog gewag op verklarings van ooggetuies.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
