

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 September 2013
Norman Naispitt van Makhado (Louis Trichardt) se laaste gedagtes, voor hy op slag dood is in ‘n gru-motorfietsongeluk, was by sy vrou.
Die 55-jarige Naispitt was verlede Donderdagmiddag oppad huis toe in Vleistraat, toe hy tromp-op met ‘n bus gebots het naby Palm Motors. Sy motorfiets het onder die bus beland en hy is op slag dood. Niemand in die bus is beseer nie.
Naispitt het kort voordat hy oorlede is nog ‘n SMS aan sy vrou, Magda, gestuur. “Ek het eers die boodskappie gekry toe vriende gebel het met die slegte nuus,” het ‘n hartverskeurde Magda Dinsdag aan die koerant vertel.
Sy en Norman was 15 jaar lank getroud.
Norman het ongeveer 17:00 vir Magada ‘n drukkie gegee voordat hy weg is by die huis. Hy is met sy motorfiets na vriende se huis, waar hy ‘n stukkende wasmasjien help regmaak het. Hierna het hy gou by ‘n vriend van hom in die industriële gebied gaan inloer voordat hy weer sou huis toe gaan.
“Ek het gewag vir hom om huis toe te kom; die kos het reggestaan op die tafel om ingeskep te word,” het Magda gesê.
Norman, wat van Engeland af kom, het jare terug na Suid-Afrika geëmigreer, en as ‘n ingenieur het hy kontrakwerk gedoen in Johannesburg. Hierna het hy na Louis Trichardt verhuis, waar hy by verskeie plaaslike ingenieursfirmas werksaam was. Hy het ook vir ‘n wyle sy eie onderneming, Norman’s Discount Engineers, bedryf.
Magda vertel dat sy altyd vir Norman sal onthou as ‘n behulpsame mens wat baie lief was vir mense, kinders en veral sy diere. “Ons gaan vreeslik na hom verlang,” was Magda se woorde.
Daar is voorlopig besluit om ‘n roudiens vanuit die AGS-kerk te hou op Vrydag. Die finale reëlings sal afhang van hoe vinnig die polisie klaarmaak met hulle ondersoek rakende die omstandighede van die ongeluk.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
