ADVERTISEMENT:

 

Wyle tannie Sya Mattheus (81). Foto verskaf.

Tannie Sya was ‘n kind van die Here ...

 

News  Date: 27 September 2013

 

Sy het haar Christenskap uitgeleef en, ten spyte van haar jarelange stryd met Alzheimers, het sy altyd getuig dat die Here vir haar goed is.

Die Soutpansberg het die afgelope week afskeid geneem van tannie Sya Mattheus, wat op  19 September in die ouderdom van 81 jaar oorlede is.

“Ek weet nie of sy pyn gehad het nie, maar sy het nooit gekla nie…” het haar man, oom Pieter, Maandag gesê en bygevoeg: “Haar lewe is ‘n voorbeeld vir almal met wie sy in aanraking gekom het.” Tannie Sya se een dogter, Tina, stem saam en sê: “As jy gevra het hoe gaan dit, het sy altyd gesê ‘Dit gaan goed, die Here is goed vir ons’”.

Luzya Susanna Mattheus is gebore op 15 Julie 1932 in die Elim Hospitaal. Haar ouers was woonagtig op die plaas Ballymore. Later sou sy haar laer- en hoërskoolloopbaan in Makhado (Louis Trichardt) voltooi en was sy deel van die eerste groep leerlinge wat matriek geskryf het by die “nuwe” Hoërskool Louis Trichardt.

As jong vrou het tannie Sya by die destydse Barclays Bank  in die dorp begin werk en in 1953 ontmoet sy haar lewensmaat, oom Pieter, nadat hy vanaf die Oos-Kaap hierna toe verplaas is deur die destydse Departement van Justisie. Die liefde blom en op 3 April 1954 trou die paartjie. Dieselfde jaar word oom Pieter weer verplaas na Pretoria en in die sewe jaar wat hulle daar woonagtig was, word vier van hul vyf kinders, Pieter, Sya, Tina en Chris, gebore.

In 1961 trek die familie weer terug na die plaas Ballymore en tannie Sya begin by Standard Bank werk, tot met die geboorte van hul jongste kind, Cassie, in 1962. Intussen het oom Pieter in die motorhandel gewerk  terwyl tannie Sya (vanaf 1967 tot 1971) op die plaas geboer het. In 1971 trek die familie in dorp toe. Hier was tannie Sya aktief betrokke by verskeie welsynsorganisasies, Bybelstudiegroepe en kerkorganisasies.

Oom Pieter tree in 1993 af. “Daarna het die Here ons die genade gegee dat ons saam kon gaan toer na onder meer Namibië en Botswana. Sy was absoluut ‘n buitelug mens. Nog ‘n lekkerte vir haar was dat ons elke jaar vir drie maande tydens die winter op Tshipise deurgebring het. Sy het die warm water so geniet!” sê oom Pieter.

In 2007, sê oom Pieter, het hy na ‘n praatjie oor die radio geluister oor Alzheimers en besef daar is fout. Hulle vrese is bewaarheid. Die laaste twee jaar was veral vir die familie ‘n moeilike tydperk, met haar gesondheid wat  die laaste twee weke dramaties agteruit gegaan het.

“Sy was die ideale vrou, ma, ouma en vriendin. Sy was ‘n ideale gelowige – ‘n kind van die Here,” het die familie gesê.

Tannie Sya word oorleef deur haar man, kinders, skoonseuns en –dogters (Estelle, Hannes, Gerhard, Rona en Noenie) en tien kleinkinders. Sy is Woensdag vanuit die Agapé-gemeente hier begrawe. Die diens is waargeneem deur haar seun, past. Chris Mattheus.

Die familie het hul dank uitgespreek teenoor drs. Gaigher en Badenhorst , die Agapé-gemeente vir die verversing en etes, Martin’s Funerals, Beauty en Dora wat haar so mooi opgepas het, en al die kinders en kleinkinders.

“Dankie ook vir Pa wat altyd by haar was. Dankie ook aan Susan Coetzee wat elke Vrydag vir haar kom lees het en saam met haar gesing het,” sê die familie.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines