

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 September 2013
Dit het haar vier jaar lank gevat, maar vir ‘n vrou van Musina het geregtigheid uiteindelik geseëvier.
Marietjie O’Callaghan was sedert 2009 in ‘n Hooggeregshofstryd gewikkel met die Musina Munisipaliteit, nadat sy in ‘n munisipale mangat geval het en ernstig beseer is. Die voorval het op 24 Maart van daardie jaar gebeur.
“’n Verskriklike pyn het deur my hele lyf geskiet,” het Marietjie aan die Zoutpansberger vertel. Dít was egter maar net die begin van haar trauma.
Dié mangat, waar die N1 aansluit by Erwinstraat, se deksel, soos dit later sou blyk, was te klein gewees. Marietjie het oor die pad gestap saam met haar man toe sy op die deksel trap en dit net meegegee het onder haar. Dit was al donker gewees, die gat was ongemerk en sy het kniediep met haar linkerbeen in die gat geval.
Weens die pyn wat deur haar hele lyf getrek het, het Marietjie eers gedink ‘n vragmotor, wat besig was om oor die kruising te gaan, het haar dalk getref. “My been het dadelik blou en pers begin word, en verskriklik opgeswel,” het sy vertel. Haar dokters het ook bepaal dat haar nek en haar ruggraat seergekry het weens die val. Dié nuus het eers maande ná haar val gekom, omdat X-strale onmoontlik was weens al die bloeding onder die vel en tussen die spierweefsels in Marietjie se been.
Sy kon glad nie haar been buig nie en moes hink-en-pink oor die weg kom. Vir Marietjie, die eienaar van Ankura Akademie, ‘n privaatskool op Musina, was dit ‘n groot terugslag. Haar man moes uit sy werk bedank om haar by te staan by die skool en sy kon nie meer oefen nie. Sy kon ook nie bestuur om kinders op of af te laai nie en trappe was onmoontlik om te klim.
Marietjie sê, volgens haar dokters sal sy uiteindelik ‘n knievervanging moet kry om van die skade te herstel.
Maande se pyn en onvermoë om haar werk te doen, het haar uiteindelik aangespoor om ‘n skadevergoedingseis teen die Musina Munisipaliteit in te stel. Sy het geen reaksie gekry op briewe wat sy aan die munisipaliteit gerig het nie. “Ek was ook nie die enigste slagoffer van die mangat gewees nie; daar was heelwat mense wat voor en na my daar geval het,” het Marietjie gesê.
Haar saak het uiteindelik gedraai in die Hooggeregshof in Pretoria, waar daar verlede Maandag uitspraak gelewer is. Die rede hoekom die saak so lank gesloer het, was omdat die munisipaliteit se regspan die feit betwis het dat die munisipaliteit al die blaam moet dra.
“Waarop dit neer gekom het, is dat die munisipaliteit die hof probeer oortuig het dat ek ook skuldig was en moes gekyk het waar ek loop,” het Marietjie gesê. Tydens Maandag se hofverrigtinge het die hof uitspraak gelewer en bevind dat 75% van die blaam deur die munisipaliteit gedra sal word en die res deur Marietjie. “Ons het besluit, vir die saak om net te vorder, om eerder nie teen die uitspraak te appelleer nie, al dink ons die munisipaliteit is 100% verantwoordelik.”
Al wat nou oorbly is vir die hof om die vergoedingsbedrag vas te stel wat deur die munisipaliteit aan Marietjie uitbetaal moet word. Dit sal na verwagting binne die volgende paar maande gebeur.
Intussen, volgens Marietjie, is die mangat se deksel eers ‘n paar maande gelede toegegooi met grond.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
