

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 May 2003
LOUIS TRICHARDT – Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het inwoners gemaan om op die uitkyk te wees vir 'n groep van drie of vier mans wat tans 'n bewind van terreur en misdaad voer in die omgewing van die dorpsdam.
Die groep mans is gewapen en moet te alle tye as uiters gevaarlik beskou word. Hulle maak ook van balaklawas gebruik om hul identiteit te verberg. Op Saterdag, 24 Mei het die groep gemaskerde mans die 34-jarige mnr. Solomon Ramudzuli van sy vuurwapen, selfoon and R50 in kontant beroof. Mnr. Ramudzuli en 'n vriendin van hom is in die ou Messinaweg deur die mans oorrompel, terwyl hulle in hul voertuig besig was om te eet. Mnr. Ramudzuli se hande is agter sy rug vasgebind, waarna hulle 'n veiligheidsgordel afgesny het en dit om sy oë gebind het. Die verdagtes het daarna in die digte bosse aangrensend tot die dorpsdam verdwyn.
Maandag, 26 Mei het die groep gemaskerde mans weer toegeslaan. Omstreeks 11:50 het hulle die 28-jarige mnr. Vimal Chard Parasmal Shah se voertuig op die hoek van Burger- en Ruhstrate voorgekeer. Sy skoonsuster was ten tye van die voorval saam met hom in die voertuig. Die groep gewapende mans het oomblikke later in sy voertuig gespring en hom beveel om na die dorpsdam te ry. Daar aangekom het hulle mnr. Shah en sy skoonsuster van hul selfone en sowat R6 000 se kontant beroof. 'n Baadjie is om mnr. Shah se kop gebind, terwyl sy hande en voete met 'n afgesnyde veiligheids-gordel vasgebind is. Die twee slagoffers is uit hul voertuig gedwing, waarna die mans met die silwerkleurige Nissan Sentra weggejaag het.
In 'n onverwante voorval is 'n 27-jarige vrou op Saterdag (24ste) deur 'n onbekende man voor haar vierjarige dogtertjie in die digte bosse tussen Cloud's End en die dorpsdam verkrag. Die vrou en haar kleuter het kortpad deur die bosse gekies, aangesien hulle nie geld gehad het vir 'n minibus-taxi nie. Die man het die vrou met die vuis in die gesig geslaan, waarna die dogtertjie begin huil het. Die man het toe ook die dogtertjie aangerand en beveel om stil te bly. Die vrou is toe die bosse ingesleep, waar sy verkrag is.
In al drie bogenoemde gevalle is daar teen druktyd nog geen arrestasies gemaak nie. Die polisie het lede van die publiek gemaan om parke langs digte bosse, soos by die dorpsdam, te vermy. Hulle het ook persone versoek om na vore te kom, indien hulle die polisie kan bystaan in hul ondersoek. Persone wat kan help, kan die polisie skakel by tel. (015) 516 4305.

ADVERTISEMENT:
