

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 September 2013
Boere en grondeienaars wes van die Beitbrug-grenspos sit met die hande in die hare oor die haglike toestand waarin die grensdraad is.
Op tientalle plekke is die heining aan beide die Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese kant oopgeknip, wat nie net vrye deurgang gee vir onwettige immigrante nie, maar ook rondloperbeeste en -donkies. Volgens boere van die omgewing is dit nie eers meer snaaks om smokkelaars helder oordag op die grens te kry nie.
Die Zoutpansberger het verlede Donderdag besoek gebring aan die westelike grens en ook ‘n vergadering bygewoon waartydens grensbeheer bespreek is. Die vergadering is gehou by Maroi Boerdery, op die oewer van die Limpoporivier, wat die grens vorm tussen Suid-Afrika en Zimbabwe. Suid-Afrikaanse boere en kraalhoofde van Zimbabwe het die vergadering bygewoon wat deur mnr. Lourens Mostert, wildsbestuurder van Maroi, georganiseer is.
Boere, veral dié wat met sitrus en wild boer, is bekommerd oor die beeste en donkies wat van Zimbabwe deur die grens kom. Een besmette dier kan ‘n hele boerdery op sy knieë dwing. Dié diere loop oor die grens omdat daar nie meer genoeg weiding vir hulle is aan die Zimbabwe kant nie.
Meeste plase langs die oewers van die Limpopo voer miljoene rande se sitrus uit na oorsese markte en produseer ook groente en vrugte vir die plaaslike mark.
Ná die vloede in Januarie vanjaar bestaan kilometers van die grensdraad net nie meer nie. Vloedwaters het die heining platgestoot en die grens totaal en al oopgelos. Plek-plek is daar nog beheerposte van die weermag, maar dié is meestal onbeman en die hekke staan ook oop. “As daar op enige deel van die grens bek-en-klouseer uitbreek, sal die hele Limpopo Provinsie gesluit word en sal daar niks meer uitgevoer kan word nie,” het Mostert gesê.
Behalwe vir die bek-en-klouseer gevaar wat só ‘n oop grens inhou, het talle diere al verstrengel geraak en gevrek in die stukkende bondels heiningdraad. Onwettige jagters, wat strikke stel met draad wat hulle uit die grensheining steel, stroom ook nou oor die grens en jag alles van rooibokke tot elande en kameelperde.
Die swak toestand van die grensheining het boere genoop om self plan te sien. Mostert het uit pure radeloosheid al die stukkende heining waarin diere verstrengel geraak het, begin oprol en uit die pad uit bêre. Hy het aangebied om die heining tussen Maroi en die grens op eie koste reg te maak. Hiervoor het die Departement van Landbou ‘n stokkie gesteek en gesê hy moet alle skoonmaakaksies staak totdat hy toestemming gekry het van die regering.
Dié departement is uitgenooi na die vergadering en het bevestig dat hulle ‘n verteenwoordiger sou stuur. Kort voor die vergadering het die departement laat weet hulle sal nie die vergadering bywoon nie omdat hulle tans besig is om instandhouding te doen van die oostelike grensdraad.
Tot dan sal boere nog steeds op hulle eie vernuf moet staatmaak om te keer dat onwettige diere op hulle plase kom.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
