ADVERTISEMENT:

 

Claudie was altyd op haar gelukkigste wanneer sy omring was deur haar kinders en haar man. Voor is klein Ernst. Agter, van links na regs, is Estienne, Claudie, Lize en Emil. Foto verskaf.

Haar Afrika-hartklop stil

 

News  Date: 27 September 2013

 

‘n Sprankelende, positiewe mens … So sal baie Soutpansbergers die 42-jarige Claudie Simon van Makhado (Louis Trichardt) onthou wat die afgelope naweek oorlede is.

Op haar Facebook-blad het die boodskappe van vriende teen druktyd steeds ingestroom, tekenend van iemand wat op haar eiesoortige manier diep spore in almal se harte getrap het.

Claudie is sowat twee jaar gelede met kanker gediagnoseer. Ná intensiewe behandeling en ‘n operasie, was sy vir lank in remissie. Die pyn het egter weer begin en by verdere ondersoek, die skoknuus – die kanker het weer opgevlam en versprei. Die laaste twee weke was vir haar baie moeilik en Sondag om 03:30 is Claudie, met haar man Emil en haar oudste broer Braam aan haar sy, weg.

Emil het Maandag ‘n klein bietjie van die familie se hartseer met die Zoutpansberger gedeel. “Ons het ‘n harde pad geloop ... die laaste twee jaar het ons sonder ophou gefight,” sê Emil. Omdat sy nog so jonk was, sê hy, het hulle alle behandelings wat daar was, probeer.

Te midde van die hartseer onthou Emil en die kinders, Estienne (22), Lize (17) en Ernst (11), eerder  vir Claudie vir die wonderlike vrou en ma wat sy was. Claudie se hart het op ‘n Afrika-ritme geklop. Sy het deur ‘n kreatiewe bril na die lewe gekyk en dit wat sy gesien het, met passie in skilderye, haar huis en op die wildsplaas Moyo vasgevang.

Haar skoonsuster, Elthea Schle­singer, het in 2007 tydens Claudie se Cattle & Clay kunsuitstalling dit so beskryf: “Dit is Claudie se eerste volwaardige solo-uitstalling. Dis so lekker dat dit local en inheems is. Dis so lekker dat sy local en inheems is. Claudie kom uit besonderse ouers met gekompakteerde wysheid, skoonheid, passie, liefde en pyn. Uit hulle altwee afsonderlik het sy ‘n sterk skeppende en inheemse geen geërf wat haar noop om op ‘n eiesoortige manier die ‘ding Afrika!’ wat so sterk in ons almal hier se bloed sit, te laat uitkom!” Die Cattle & Clay-uitstalling was ‘n versameling van haar besonderse Nguni-skilderye en Venda-kleipotte.
Claudie het haar eerste uitstalling opgevolg met ‘n tweede solo-uitstalling (Indigenous Images) in 2008. Hierdie keer was die tema van haar skilderye hoofsaaklik Afrika vroue waarin die lot van Afrika meisies wat jonk swanger raak, haar aangegryp het. “Meeste van hulle eindig as enkelouers sonder enige kennis van die realiteite wat vir hulle in die lewe wag,” het Claudie altyd met soveel deernis gesê.

Gebore ‘n nooi Cronjé was Claudie in murg en been ‘n boorling van die Soutpansberg. Sy was die tweede jongste van ses kinders en pa Kobie en ma Bets se enigste dogter. Haar ouers het in die vroeë sestigerjare na Venda verhuis waar Claudie en haar broers op sendingstasies by Tshilidzini en Hayani grootgeword het. Hulle het later na Louis Trichardt verhuis.

“Sy was op haar gelukkigste tussen haar familie en vriende, wanneer haar man en kinders by haar was,” onthou Elthea.

Emil en die kinders is te midde van die hartseer, dankbaar dat hulle kon afskeid neem. “Sy het vir ons ‘n mooi begrafnisbrief geskryf van wat sy wil hê ... sy het tot vir ons gesê ons moet die honde asseblief bêre want hier gaan baie mense wees ...” sê Emil met ‘n glimlag – ‘n glimlag wat sy drie kinders deel. Dan voeg hy by: “Sy was darem maar ‘n ongelooflike mens ... tot op die einde worry sy oor ons.” Lize stem saam en voeg by: “Sy het ons getroos en vir ons gesê ons moenie huil nie.”

Claudie word oorleef deur haar man en kinders, ma en pa en vyf broers, Braam, Pierre, Kurt, Jaco en Fritz. ‘n Roudiens is Donderdag vir haar gehou op die plaas Misty Mountains. Die familie het hul dank uitgespreek teenoor die “wonderlike ondersteuningsgroep” wat saam met hulle die hartseer pad stap. Hulle wou nie iemand uitsonder nie, maar Emil wou tog sy opregte waardering uitspreek teenoor Claudie se dokter en sy eie vriend en vennoot, dr. Emile Gaigher. Hy sê Emile het hulle die laaste twee jaar elke dag bygestaan met ondersteuning, bystand en vriendskap –  en ook die oggend van Claudie se dood.

“Daardie ou het ‘n ongelooflike groot hart,” sê Emil.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines