

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 May 2002
LOUIS TRICHARDT – Die CMR op Louis Trichardt is dringend op soek na 'n geskikte woonhuis wat as kinderhuis kan dien. Hulle werk tans ook aan 'n projek om die hele gemeenskap te betrek by 'n sopkombuis aksie.
Die CMR se maatskaplike werkster, mev. Hester Beukes, het vandeesweek gesê dit is uiters noodsaaklik dat geriewe plaaslik geskep moet word om voorsiening te maak vir die versorging van hulpbehoewende mense en verwaarloosde kinders.
Plaaslike sorgbehoewende kinders moet na ander dorpe gestuur word om daar versorg te word, omdat geen plaaslike geriewe beskikbaar is nie.
Dié toedrag van sake het dikwels bykomende ontwrigting en koste tot gevolg.
Sorgbehoewende kinders van Louis Trichardt moet tot dusver na Pietersburg, Nylstroom of Thohoyandou gestuur word vir versorging in die beskikbare kinderhuise in daardie sentra.
Daar is 'n toenemende getal plaaslike kinders wat op inrigtingsorg aangewese is, maar geen voorsiening word tot nou toe in Louis Trichardt gemaak vir die akkommodasie van sulke kinders nie.
Die CMR se plaaslike bestuur het 'n beroep op lede van die publiek gedoen om te help om in die dringende behoefte aan 'n kinderhuis te help voorsien.
Die CMR is ook besig met die vestiging van 'n sopkombuis-aksie wat gereeld aan honger werklose mense in die dorp sop en brood kan bedien.
Mense wat brood en bestanddele vir sop kan verskaf of wat bereid is om te help met die voorbereiding of die bediening van die sop, kan meehelp om die projek veral met die oog op die koue wintermaande te help vestig.
'n Struktuur is reeds langs die kantoor van die CMR op die terrein van die Geloftekerk op die dorp ingerig. 'n Proeflopie met die bediening van sop en brood word eerskomende Woensdag gehou
Die CMR se kantoorpersoneel het tot dusver hul hande vol gehad met die verskaffing van maaltye aan behoeftiges en kan die taak nie alleen behartig nie. Vrywilligers sal die aksie moet help in stand hou.
Die CMR bestuur het op sy jongste vergadering besluit op 'n skema waarmee veral die sakegemeenskap by die sopkombuis-aksie betrek kan word.
Boekies etekaartjies sal teen 'n voorgeskrewe donasie beskikbaar gestel word aan sakelui wat graag wil help om die nood te verlig, maar huiwer om geld aan werkloses of straatkinders te gee. Met die kaartjie sal die ontvanger by die sopkombuis gehelp kan word.
Vrywilligers wat met die werk en ook met gepaardgaande geestelike berading wil help, is welkom om reeds voor Woensdag nader te staan.

ADVERTISEMENT:
