

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 May 2002
LEVUBU – Die dertienjarige Juandrí Coetzee van Levubu het uitmuntend gevaar in die sangafdeling van die landswye Beyond 2000-vermaaklikheidskompetisie wat vanaf 29 April tot 5 Mei op Rustenburg gehou is.
Juandrí se prestasie besorg haar 'n plek in die Suid-Afrikaanse span wat 30 September na Los Angeles vertrek om daar teen ongeveer 42 lande mee te ding. Sy het in al vier afdelings waaraan sy deelgeneem het, bó 90% behaal vir haar solosang. In die Broadway-afdeling het sy A Spoon full of Sugar gesing en in die Gospel-afdeling was Cast Your Burdens haar keuse. Achy Breaky Heart was haar lied vir die Country-afdeling, terwyl sy Mama Mia gesing het in die Pop-afdeling.
Die Suid-Afrikaanse span bestaan uit ongeveer 150 lede wat elke aspek van die vermaaklikheidswêreld dek, soos solosangers, koorsangers, groepe, modelle, toneelspelers en dansers.
Juandrí, wat verbonde is aan die El Baruch Akademie op Levubu, is glad nie 'n nuweling op die sangtoneel nie en het al aan vele kompetisies in haar jong lewe deelgeneem. Verlede jaar is sy as algehele wenner aangewys in die talentkompetisie op Pietersburg en die naweek net voor die Beyond 2000-kompetisie het sy saam met Johan Swart by die opening van die Tusk Venda Hotel opgetree.
"By die Beyond 2000-kompetisie het ek die spanbou die meeste geniet," sê Juandrí, wat baie opgewonde is oor die oorsese toer. Sy sal deur haar moeder vergesel word na Los Angeles.

ADVERTISEMENT:
