

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 October 2013
Die behoefte aan ‘n georganiseerde nagskuiling vir volwassenes in Makhado (Louis Trichardt) het onder die aandag gekom tydens verlede week se Sendingnaweek van die plaaslike Baptiste gemeente.
Verskeie bedrywighede in die plaaslike gemeenskap waarby gemeentelede betrokkke kan raak, en behoeftes wat aandag verg, is tydens die naweek se verrigtinge bespreek.
Die gemeentelede het onder meer kennis geneem van bedrywige opleiding- en kerkplantingsaksies wat vanuit die Elim teologiese sentrum aan die gang is, tesame met die versorging van weeskinders in Tshikota, die bedrywighede van die plaaslike Gideons en die buitengewone uitreik-aksie van ‘n plaaslike Christen motorfietsklub.
Daar is ook kennis geneem van die onrusbarende feit dat ‘n beduidende aantal broodwinners uit die Kutama-, Sinthumule-, Vleifontein-, Elim- en Nzhelele-areas van die Makhado munisipale gebied hulle daagliks wesenlik haweloos op sypaadjies in die dorp bevind. Hulle is hoofsaaklik ongeskoolde gesinshoofde wat in Makhado (Louis Trichardt) kom soek na los werkies (“piece jobs”) en finansieel nie in staat is om daagliks na hul gesinne terug te keer nie. Hulle bevind hulleself gevolglik dikwels vir ‘n geruime tyd hier in ‘n benarde posisie - haweloos, fisies en geestelik onversorg op straat en saans sonder heenkome of menswaardige slaapplek.
Die probleem word verder vergroot deur vreemdelinge vanuit buurstate wat ter wille van oorlewing hierheen kom.
‘n Gepaste oplossing wat tydens die bespreking aan die hand gedoen is, is die skepping van ‘n georganiseerde nagskuiling, waarby verskillende gemeentes betrokke kan raak. Dit kan aan hierdie verwaarloosde vreemdelinge tydelike skuiling en helende versorging bied en hulle in aanraking bring met welsynsdienste (ook vir hul gesinne) tesame met opleidings- en werkverskaffingsmoontlikhede.
Die tipiese nagskuiling open sy hekke saans op ‘n vasgestelde tyd en voorsien ‘n ete, wasgeriewe, ‘n bed en sluitkas vir die nag. Soggens na ontbyt vertrek almal na hul verskillende bestemmings en die hekke word gesluit. Dit is nie ‘n “blyplek” nie. Dit verskaf bloot ‘n veilige hawe vir die nag. Dit bied ook die geleentheid vir welsynswerkers en vrywilligers om behulpsaam te wees met berading en sorg-aksies en om ‘n databasis te skep wat kan help met die ontwerp van vaardigheidsontwikkelingsprojekte en werkskepping.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
