

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 October 2013
‘n Oud-inwoner van Makhado (Louis Trichardt), Helgard Muller, het einde verlede week weer hier ‘n draai gemaak op ‘n buitengewone trapfietsrit.
Helgard, wat sy linkervoet ses jaar gelede in ‘n landbou-ongeluk in ‘n Amerikaanse graansilo verloor het, onderneem tans ‘n fietsrit al langs die grense van Suid-Afrika met ‘n kunsledemaat, om geld in te samel vir die Wes-Kaaplandse vereniging vir gestremdes. Hy wil graag R500 000 vir die vereniging insamel. “Talle mense met gestremdhede het nie die vermoë om noodsaaklike hulpmiddels te bekom nie. Die vereniging benodig fondse om in sulke gevalle te help,” sê Helgard. Terselfdertyd hoop hy om mense te inspireer met die wete dat geen struikelblok onoorkombaar is vir ‘n mens met ‘n positiewe ingesteldheid nie. “Sover ek weet, is dit die eerste keer dat iemand wat so ’n ledemaat verloor het so ‘n trapfietsrit onderneem,” sê Helgard.
Die rit het op 3 September by Tafelberg in Kaapstad begin en sal na raming sowat ses weke duur. Hy hoop om tussen 15 en 20 Oktober terug te wees in die Kaap, nadat hy met die Weskus langs opgery het tot by Oranjemund in Namibië, daarna oor Upington, Kuruman, Vryburg , Rustenburg, Thabazimbi, Ellisras, Alldays en Musina, deur Makhado (Louis Trichardt), Tzaneen en Nelspruit na Richardsbaai aan die Ooskus en verder af terug na Kaapstad.
Hy word op die inspirerende reis vergesel deur sy vrou, Hannelie en ‘n vriend, Quintus Olivier, wat die voertuig met toerusting en bagasie bestuur.
“Ons begin gewoonlik so omstreeks 3 uur soggens en doen tussen 160 tot 230 kilometer per dag met die fiets,” sê Helgard.
Oor sy wedervaringe tot dusver op die rit, sê Helgard hy glo ‘n mens trek positiewe belewenisse na jou toe aan as jou uitkyk reg is.
Helgard se lewensveranderende ongeluk tydens sy werk in die VSA, waar hy ter nouernood aan die dood ontkom het, was die derde ernstige traumatiese gebeurtenis wat hy binne die verloop van tien jaar moes verwerk. Hy was saam toe sy jongste broer in ‘n motorongeluk dood is. Daarna het sy ouers ‘n ongeluk oorleef waarin vyf mense dood is en waarna sy pa ‘n geruime tyd in ‘n rolstoel was.
Helgard het ’n taai stryd teen depressie gevoer na sy ongeluk in die VSA . Hy het aanvanklik gevoel dis die einde van 'n sinvolle lewe. ‘n Staptog met sy kunsledemaat in Egipte en Israel het sy herstel ingelui. Daarna het sy nuutgevonde passie vir fietsry hom gehelp om passiewe negatiwiteit heeltemal te oorkom en ‘n nuwe, positiewe ingesteldheid aan te kweek. Met sy bergfiets het hy al aan verskeie nasionale byeenkomste deelgeneem en geniet elke oomblik daarvan.
Oor die oorsprong van die idee om sy huidige rit aan te pak, sê Helgard: “Ek wou graag iets goeds doen, om ook ander wat soortgelyke probleme ondervind te bemoedig en te inspireer.”
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
