

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 October 2013
‘n Bekende inwoner en oud-skoolfhoof en –onderwyser van die streek, oom Chris de Jager, het die afgelope week sy 98ste verjaarsdag gevier.
Maandag se trietserige misreëntjie het nie die feestelike atmosfeer in die De Jager-woning gedemp nie. Oom Chris se vrou en kinders het hom op die hande gedra en ‘n feesmaal voorberei om dié verjaarsdag ekstra spesiaal te maak. Vriende wat kom inloer het om oom Chris geluk te wens, is ook getrakteer op ‘n koppie tee en verjaardagkoek.
Só tussendeur, met ‘n teetjie in die hand en ‘n bordjie eetgoed op die tafel, het die Zoutpansberger met oom Chris gesels oor sy wedervaringe as ‘n jonger man.
Oorspronklik van die Vrystaat, is oom Chris op 30 September 1915 gebore - een van agt broers en susters. Met sy tiende verjaarsdag is sy ma oorlede, en so het dit gekom dat die jonge Chris in ‘n weeshuis grootgeword het. “Daardie jare was die tye moeilik; die finansies het geknyp. Ons kinders kon net een maal ‘n jaar huis toe gaan om vir ons pa te kuier,” het oom Chris vertel.
Nadat oom Chris gematrikuleer het, trek hy na die groot stad toe. Hy het saam met ‘n weeshuis-maat gebly in ‘n huis in Braamfontein.
Dit was tydens die Depressiejare in Suid-Afrika, en werk was so skaars soos hoendertande. “Maar die Here voorsien altyd,” sê oom Chris. Sy eerste werk was by die apteek van ‘n Jood in Johannesburg, waar hy houtwerk gedoen het en winkelkaste ingebou het.
Vir 15 sjielings (omtrent R1,50) het oom Chris vir maande lank elke dag ‘n uur lank gestap na die Jood se apteek om te gaan werk. Dié Jood, vertel oom Chris, was egter baie skepties oor die Boerseun wat vir hom gewerk het. “Hy het altyd vir my gevra: 'Are you a German?'”
Eendag, toe oom Chris al raadop met die Jood was, kry hy ‘n brief in die pos. “Destyds het mens twee eksamens afgelê; die Spoorweë s'n en die Staat s'n. As jy die eksamens slaag, kon jy werk by dié instansies kry,” verduidelik oom Chris.
Oom Chris is goedgekeur vir diens by die Spoorweë. “Teen 10 pond per maand!”
Spoorwegwerk het egter geen belangstelling by oom Chris gewek nie. So op ‘n dag het hy by die technikon oorkant die Spoorweë se kantoor ingeloop en besluit om onderwys deeltyds te begin studeer.
Sy Hoër Onderwys Diploma het oom Chris later jare aan die Potchefstroomse Universiteit voltooi. Hy is in die destydse Transvaal as onderwyser geregistreer en aanvaar sy eerste pos as onderwyser op Piet Retief. Hier het hy ook sy eggenote, tannie Matilda, ontmoet. Hulle is al 66 jaar lank getroud.
Die egpaar het in 1970 na Louis Trichardt verhuis, nadat oom Chris vir jare as skoolhoof gedien het by Vivo se laerskool (nou die CVO Skool Vivo). Na sy aftrede was oom Chris nog betrokke by die onderwys, maar sy passie was evangelisasiewerk. Hy het by die plaaslike tronk bedieningswerk onder die gevangenes gedoen. “Ek hou nou nog dienste vir my werkers hier op my plot, elke oggend voor hulle begin met die dag se werk,” vertel oom Chris.
Dít is dan ook, sê oom Chris, die geheim vir sy lang en geseënde lewe: Die Bybel.
“My seun, hoor wat ek vir jou sê, luister goed na my woorde! Moet dit nie vergeet nie, hou dit altyd in gedagte, want dit beteken lewe vir dié wat daarna luister, ‘n volle lewe vir hom wat dit besit,” is die Bybelvers uit Spreuke 4 wat oom Chris uit sy kop ken én sy lewe na rig.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
