

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 October 2013
‘n Vernietigende veldbrand het verlede Donderdag die Manavhela Ben Lavin Natuurreservaat so te sê in puin gelê.
Die brand, het die reservaat se bestuurder, mnr. Lourens Muller, gesê, het op die oostelike grens uitgebreek. Aanvanklik het die brand ontstaan op ‘n buurplaas, maar teen die tyd wat Muller en sy werkers die rookwolke opgemerk het, was dit al middagete gewees. Die vlamme is toe alreeds deur ‘n sterk wind in Ben Lavin ingewaai en die oostelike grens was reeds in ligte laaie gewees toe Muller gaan ondersoek stel het.
Die wind het vir kort rukkies bedaar, wat Muller se span kans gegee het om die brand onder beheer te kry, sodat dit nie die hoofkamp kon bereik nie. Dit was amper ‘n onbegonne taak, maar danksy die hulp van die streek se inwoners wat kom hand gee het, sê Muller, is die reservaat gered.
Die oorspronklike Ben Lavin huis op die reservaat is ongelukkig tydens die brand in puin gelê. Verder was die reservaat vir twee dae sonder enige elektrisiteit en het feitlik al die waterpype gesmelt. Muller sê dit wil voorkom of daar nie enige grootwild is wat gesneuwel het nie.
In die harwar het die plaaslike brandweer hulle toe ook nog boonop in wilde gediertes vasgeloop. Vrywilligers wat gaan uithelp het, het vertel dat ‘n slang in die bos die brandweer asvaal van die skrik, onverrigte sake laat omdraai het.
Ten spyte hiervan het die Makhado Brandweer tog teruggekeer om te gaan help op die reservaat, het mnr. Jack Ramalatso (stasiehoof) Dinsdag gesê.
Die brand het tot Vrydag gewoed, en groot dele van die reservaat, tot by die westelike grens, is afgebrand. Eers teen Maandag is die laaste smeulende kole geblus en kon gesmelte waterpype en kragdrade herstel word.
Muller het gesê dat die skade gelukkig nie so erg was nie, danksy almal wat kom help het. “Ons sal darem ook nie hoef by-voeding vir die diere te gee nie. Daar is nog dele wat ongeskonde is waarop hulle kan wei tot die eerste reëns kom,” het hy gesê.
Muller en die bestuur van die reservaat het ‘n besonderse woord van dank gehad vir al die lede van die Soutpansberg dorps- en plaaswag, personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal en lidmate van die NG Kerk Soutpansberg gemeente en jeug vir hulle hulp en bystand. Hy het ook die amptenare van die Makhado Brandweerstasie, vriende en besorgde inwoners bedank.
“Julle energie, tyd en toerusting was onmisbaar in die stryd teen die weghol veldbrand in die reservaat.”
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
