

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 October 2013
Ná 27 in die Soutpansbergomgewing verhuis Ben en Willie van der Waal na die Suidland.
Ben was betrokke by die Universiteit van Venda as professor in die biologiese wetenskappe, met vissery as spesialiteitsgebied. Hy was ‘n gewaardeerde gemeenskapslid wat altyd uit die vuis uit ‘n wetenskaplike opinie oor omgewingsake aan die media kon gee. Sy vriendelike vroutjie, Willie, was altyd doenig met vroeë kinderontwikkeling en die opleiding van kleuterskoolonderwysers. Hulle het op die plot, Van der Waal se Kraal, op die Vondelingpad naby die stortingsterrein gewoon. Die Van der Waals se korrespondensie met die munisipaliteit oor die asgate het ‘n hoop lêers volgemaak! Skynbaar is hulle nuwe woning baie ver van enige vullishope af! Hulle "trek" het op 8 Oktober plaasgevind.
“Ons het goeie herinneringe aan die tyd waarin ons in hierdie mooi omgewing by die unieke Soutpansberg gewoon het! Ons kon ons vyf kinders grootmaak in Van der Waal se Kraal met baie plaas- en buitelugondervindings en altyd ‘n oorvloed aan vars vrugte,” sê die Van der Waals. Hul kinders woon verspreid oor die land en Namibië en is meestal betrokke by omgewingsontwikkeling en het dit ook hul studieveld gemaak.
“Dit was aangenaam om deel te neem aan gemeenskapaksies, soos die groen gordel deur die dorp, water- en besoedelingskwessies, die Vhembe Biosfeerreservaat en mynvoorstelle,” sê dr. Van der Waal.
Die Van der Waals het hulle geestelike tuiste by die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt gevind en het groot waardering vir hul gemeente.
“Aan al ons oud-kollegas, voëltjie- en boomvriende en gewone vriende: baie dankie vir jul almal se liefde en vriendskap. Ons gaan nou in Sedgefield vestig (tussen Knysna en George) en die baie water, see en woude geniet, maar ons sal jul nie vergeet nie – en ons hoop om geleenthede te vind om in die winter bosveld toe te kom en ons vriende wat ons moet agterlaat, te kom besoek. Ons wens julle vrede toe en die beste, veral met betrekking tot omgewingsake. Aan God al die eer vir ‘n baie geseënde tyd in Louis Trichardt,” sê die Van der Waals.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
