

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 May 2002
LOUIS TRICHARDT - 'n Vegvlieënier van Hoedspruit, kapt. Brett Burmeister (28), is Vrydagoggend (26 April) dood, nadat sy Impala vegvliegtuig naby die Albasinidam neergestort het.
Kapt. Burmeister, 'n instrukteur van 85 Gevegvliegskool, was besig met lae-vlak taktiese navigasie oefeninge toe sy vliegtuig teen 'n klipkoppie vasgevlieg het in 'n digbewoonde plattelandse woongebied in die Valdezia-area. Die ongeluk het sowat 5km wes van die Albasinidam plaasgevind. Gelukkig is niemand anders in die ongeluk beseer nie. In hierdie stadium is dit nie seker wat die ongeluk veroorsaak het nie.
Kapt. Burmeister word oorleef deur sy ouers, mnr. en mev. J.F. Burmeister van Roodepoort. Intussen het die Hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, genl. Siphiwe Nyanda, en die Hoof van die Suid-Afrikaanse Lugmag, genl. Roelf Beukes, hul medelye teenoor die Burmeister-familie en vriende uitgespreek.
Vrydag se vliegongeluk was die derde van sy soort in die Soutpansberg-area die afgelope vyf jaar. In 1997 het maj. Keith Fryer ternouernood ontkom, toe sy vegvliegtuig naby LMB Louis Trichardt neergestort het. Gelukkig vir hom kon hy net betyds uitskiet. Kapt Piet Koster was minder gelukkig en sterf nadat sy Cheetah C-vegvliegtuig sowat drie jaar later ook naby LMB Louis Trichardt neerstort.

ADVERTISEMENT:
