

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 October 2013
Wanordelike munisipale rekenings en onregmatige afsnyding van krag jaag verbruikers se bloeddruk op. Sedert die instelling van die nuwe elektrisiteitstariewe wat op 1 Augustus van krag geword het, ontvang vele lede van die gemeenskap elektrisiteitsrekenings en –lesings wat getuig van ‘n Babelse verwarring.
“Die Makhado munisipaliteit se hantering van elektrisiteitsrekenings het ontaard in 'n ondraaglike maandelikse oorlas wat grenslose frustrasie en verwarring veroorsaak, my bloeddruk opjaag en my magteloos laat toekyk hoe ek gewetenloos verarm en onbillik belas word met oënskynlik kwaadwillige ingewikkelde rompslomp,” verwoord senior burger mnr. Frances van der Merwe (75) die situasie en voeg by dat elektrisiteitsvoorsiening veronderstel is om die lewe geriefliker en aangenamer te maak en ‘n bekostigbare diens te wees.
“Ek word nou verplig om ernstig te oorweeg of ek so 'n diens hoegenaamd kan bekostig. Die poging om elke maand voor te bly met die betaling van sulke rekenings voel soos Sisifusarbeid,” sê Van der Merwe. Sisifus was ‘n koning in die klassieke mitologie wat gestraf is deur sinnelose, onophoudelike arbeid. Hy moes in die onderwêreld ‘n swaar steen teen ‘n steil heuwel oprol en net as hy die steen amper bo het, rol dit weer tot onder en moet hy van voor af begin.
‘n Ander inwoner, me. Elma van Niekerk, wat amper 80 jaar is, het reeds die elektrisiteitsstryd gewonne gegee en werk nou net met gas. “Ek is tevrede so en dierbare vriende het vir my ‘n gasyskas en ‘n gasvrieskas geskenk. Verder kook ek vooruit op my gasstoof en vries die kos,” sê tannie Elma.
Me. Max Naudé (65), ‘n geestelike kinderwerker in Tshikota, se krag is op 2 Oktober onregmatig afgeskakel. Haar man gebruik suurstof en boonop het sy die kerk se vrieskaste met kos vir ‘n voedingskema by haar. Dit is van die grootste belang dat sy oor elektrisiteitstoevoer beskik. Die kragafsnyding was sonder die nodige twee weke kennisgewing. Haar Augustus-rekening het skielik ‘n bedrag van meer as R7 900 getoon, maar wanneer die bedrae op die rekening bymekaar getel is, het dit slegs sowat R1 000 beloop, wat sy betaal het. Haar krag is summier afgesit. Sy is inderhaas munisipaliteit toe, waar daar aan haar gesê is dat daar ‘n lesing van 5 000 eenhede op haar meter is en dat dít die bedrag so opgestoot het. Haar meterlesing het dit glad nie getoon nie en dit is nêrens op haar rekeninge gereflekteer nie.
Naudé het vir me. Inga Gilfillan, voorsitter van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV), by die munisipaliteit raakgeloop. Alhoewel Naudé nie ‘n lid van die SBBV is nie, het Gilfillan haar dadelik bygestaan en die krag is dieselfde middag aangeskakel. Intussen het Naudé die September-rekening met ‘n verskuldigde bedrag van R8 130 ontvang. Mnr. Phillip Olivier, SBBV-bestuurder, het Dinsdag die storie van die 5 000 eenhede met die munisipaliteit uitgesorteer en wag vir die bewyse dat dit werklik gedoen is.
Die feit dat die nuwe glyskaaltariewe terugwerkend gehef is, is ‘n probleem op baie rekeninge. Nog ‘n krisis is dat elektrisiteitslesings vir drie maande nie op ‘n rekening verskyn nie. Wanneer die gesamentlike lesing van drie maande dan op een maand verskyn, stoot dit die eenhede in die hoogste tariefgleuf van hoër as 600 kilowatt in waar R1.36 per kW eenheid betaal moet word, in teenstelling met die 67 sent van die eerste 0 tot 50 kW. Die tariewe tussen in is R0.85 (vir 51 tot 350 kW) en R1.14 (tussen 350 en 600kW).
“Hulle het drie maande voor die verhoging van die tariewe en die invoer van die nuwe glyskaal opgehou lesings invoer en het dit dan gesamentlik op een rekening laat verskyn. Dit is ‘n doelbewuste, roekelose optrede wat grens aan kriminele bedrog,” sê Van der Merwe.
“Ons kry verskriklik klagtes oor die wanorde van die rekenings en mense voel uitgebuit. As ‘n glyskaal ingestel word, moet die krag korrek gelees word en moet die eenhede nie in ‘n hoër skaal val weens die munisipaliteit se nalatigheid nie. Daar is ook wederregtelik geen tarief vir voorafbetaalde huishoudelike krag aangekondig nie. Ons verwag dat die munisipaliteit aan spesifieke klagtes moet aandag gee, anders voorsien ons dat die ouditeur-generaal se hulp ingeroep sal moet word," sê Gilfillan.
Wat sê die Makhado Munisipaliteit van die probleme met die kragrekenings? Dinsdag het die munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, gesê dat:
* "Die verhoogde tariewe glad nie terugwerkend gehef mag word nie."
* Die lesings maandeliks geneem moet word en op die rekening verskyn. Mnr Mutshinyali het 'n vergadering met die eienaar van die meterlesingagentskap versoek. "Ek soek antwoorde van hulle. Ek kan nie mense betaal en hulle stelsel werk nie reg nie; dan moet ek eerder oorweeg om hul kontrak te beëindig," het Mutshinyali gesê.
* "Ek het vir die eienaar gesê dat ek nie so iets nou nodig het nie, veral nie noudat ek die verhouding tussen die inwoners en die munisipaliteit gladder wil laat verloop nie (I am oiling the relationship between the residents and the municipality)".
* "Ek wag vir 'n verslag van my kollegas en die antwoorde van die agentskap. Daarna sal ek die nodigheid ondersoek dat die Raad 'n resolusie oor die aangeleentheid moet neem."
* "Die probleme is 'n feit. Ek vra om verskoning vir die ongerief."
* Wat die gereelde 'adjustments' van ongeveer R200 op rekenings betref , sê mnr. Mutshinyali: "Ek sal mnr. Radzilani vra om 'n mediaverklaring daaroor voor te berei."
* "Ek doen 'n beroep op inwoners om voorbeelde van spesifieke rekeninge met probleme aan my te e-pos". Die e-posadres is [email protected] en dit sal goed wees om 'n kort verduideliking in Engels by te voeg.
Intussen vra die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging ook dat belastingbetalers met tarieweklagtes spesifieke gevalle onder hul aandag sal bring deur Phillip Olivier te skakel by 082 679 8324 of dit op hulle Facebook-bladsy te plaas, sodat spesifieke gevalle onder die munisipaliteit se aandag gebring kan word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
