

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 May 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Opwindende nuwe kompakskyf van plaaslike sanger, Attie Engelbrecht, gaan eersdaags die lig sien.
Tribute is die titel van Attie se tweede kompakskyf en dit bevat die eerste oorspronklike snit wat spesiaal vir Attie geskryf en getoonset is deur Tony Joshua, getitel Why are we strangers? Die lied is nog nooit tevore deur enige kunstenaar gesing nie.
Attie is op 23 Augustus 1980 op Louis Trichardt gebore en het aan die Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer. Hy sing al vir so lank as wat hy kan onthou en reeds as kleuter is hy gevra om op troues te sing. Daarna het skoolkore en kompetisies gevolg wat hom uiteindelik by mense uitgebring het wat hom gemotiveer het om sy eie kompakskyf te maak.
Attie was 'n finalis in die "Reik na die Sterre" sangkompetisie, asook die wenner van verskeidenheidskunste in Hollywood in die VSA. Sy eerste kompakskyf Golden Memories is uitgereik in Augustus 1999.
Attie, 'n goudsmid van beroep, is hierdie jaar aangewys as die Vroue Landbou-Unie (VLU) se Kunstenaar van die Jaar. Daar is baanbrekerswerk gedoen deur VLU-Noord deurdat dit die eerste keer is dat 'n plaaslike kunstenaar vanuit die streek gekies is as Kunstenaar van die Jaar. Sy voorganger verlede jaar was Randall Wicomb.
"Ek was baie verras en geëerd dat die VLU my gekies het. Ek sien hulle het nou oorgeskakel van 'n kopersmid (Randall se beroep) na 'n goudsmid," voeg Attie laggend by. Attie sal in Mei by die provinsiale VLU-kongres optree.
Tans beoefen Attie sy sangloopbaan op 'n deeltydse basis, maar met die verskyning van sy nuwe kompakskyf beoog hy om konserte reg deur die land aan te bied en op 'n voltydse basis te sing. 'n Platemaatskappy het hom reeds genader oor die verspreiding en bemarking van Tribute. Van die tien snitte op die nuwe kompakskyf, is Vlerke in die Wind Attie se persoonlike gunsteling.
"Dit handel oor die liefde en het baie mooi woorde en 'n pragtige wysie. Dit is 'n liedjie wat deur Bles Bridges bekendgemaak is," sê hy.

ADVERTISEMENT:
