ADVERTISEMENT:

 

Boere stel veiligheidsplan in werking

 

News  Date: 03 May 2002

 

MOPANE - Die voedselramp in Zimbabwe het beduidende veiligheidsimplikasies vir die noordelike platteland van Suid-Afrika.

Die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Dries Joubert, het vandeesweek op Mopane gesê die amptelike voedselramp wat president Mugabe in sy land afgekondig het, heers nou sowat 500 meter vanaf die naaste plase teen die noordelike grens.

"Hongersnood het seer sekerlik heelwat met veiligheid te make", het mnr. Joubert gesê.

Hy het die opmerking gemaak tydens 'n Veiligheids-werksessie van die Distrikslandbou-unie op Mopane. Die werksessie in verband met plaasveiligheid, is die eerste stap om die Transvaalse Landbou-unie se Landelike Beveiligingsplan in die Soutpansberg streek in werking te stel.

Die voorsitter van Algemene Sake van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Gideon Meiring het tydens die werksessie dit beklemtoon dat boere moet besef hulle is op hulleself aangewese om hulle te beveilig.

"Enige hulp wat van elders mag kom moet bloot as 'n bonus beskou word."

Hy het die voortgesette geweldadige aanslag teen kommersiële boere as "volksmoord" beskryf. Meer as 1 300 boere is reeds op plase vermoor.

Benewens die fisiese geweld word die psige en moraal ook so aangetas dat die betrokke gedeelte van die bevolking die gevaar loop om heeltemal gemarginaliseer te word, totdat hy geen faktor meer sal wees nie. Dit kan net verhoed word as die boerebevolking op georganiseerde skaal vir hul eie veiligheid verantwoordelikheid neem.

Mnr. Meiring het beklemtoon dat die weermag nie oor die vermoë beskik om die grensgebied doeltreffend te beveilig nie en dat die SAPD in die plattelandse gebiede dikwels eerder deel van die probleem word, in plaas daarvan om die boerebevolking te help beskerm.

Hy sê die Suid-Afrikaanse regering doen lippediens ten opsigte van die landbou, maar op subtiele wyse is daar weinig verskil tussen die regering se houding en dié van Zimbabwe se president Mugabe. Hy het daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse regering deurlopend steun aan president Mugabe betoon het en hom instaat gestel het om met sy verwerplike optredes voort te gaan.

Hierdie houding slaan ook nou op die derde regeringsvlak deur, waar die Stadsraad in Louis Trichardt met die belastingbetalers se geld 'n afvaardiging uit Kenia onthaal en hulde bring aan die Mau Mau-beweging, wat bekend was vir hul gruwelmoorde op kerklikes, nonne en boere. Hy het gesê die belastingbetalers sal moet standpunt inneem om sulke stommiteite hok te slaan, met geloofwaardige teenreaksie.

Kolonel Dawid Grobbelaar van Tzaneen het die Mobiliseer vir Veiligheid Aksie se opleiding aan die werksessie bekend gestel.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines