

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 May 2002
LOUIS TRICHARDT – Plaaslike nood- en reddingsdienspersoneel het die afgelope maand hul hande vol gehad met 'n vlaag ongelukke op die streek se paaie. Gelukkig genoeg is slegs een persoon tydens dié ongelukke dood.
Altesaam 21 ongelukke is sedert die begin van April in en om Louis Trichardt aangemeld. Die meeste van die ongelukke het op die N1 tussen Louis Trichardt en Pietersburg plaasgevind, alhoewel die hoeveelheid ongelukke op paaie in die omliggende gebiede soos ondermeer Elim, Vleifontein en Sinthumule ook hul tol geëis het.
Een persoon het tydens dié ongelukke gesterf, terwyl twee ernstig en 35 lig beseer is. Die persoon wat gesterf het, was 'n voetganger wat op 19 April om 21:30 net buite Louis Trichardt op die N1 suid doodgery is. 'n Paar dae van tevore is 'n tweede voetganger ook op dié stukkie pad raakgery, maar gelukkig is die persoon nie ernstig beseer nie. Plaaslike reddingspersoneel het motoriste versoek om versigtig te ry in hierdie area, veral oor naweke. Die rede hiervoor is dat baie voetgangers oor naweke dié pad aandurf in 'n besope toestand en telkens voor voertuie beland.

ADVERTISEMENT:
