

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 October 2013
‘n Polisiekonstabel wat erken het dat haar nalatigheid die dood veroorsaak het van ‘n man in Makhado (Louis Trichardt) is nooit geskors nie en nog in besit van haar dienspistool.
Die 32-jarige konst. Ndivhuwo Caroline Mushiane van die Makhado SAPS is aanvanklik van die moord op mnr. Justice Mulaudzi (33) aangekla. Die klag is teen haar gebring nadat sy Mulaudzi noodlottig gewond het tydens ‘n voorval by die treinkruising in Groblerstraat in Augustus verlede jaar. Mulaudzi is in die kop geskiet deur Mushiane, nadat hy in ‘n struweling betrokke geraak het met Mushiane en ‘n kollega.
Mushiane het verlede Woensdag in die Louis Trichardt Streekshof verskyn op dié moordklag. Nadat die Staat sy eerste getuie gebring het, het sy egter teruggekom en aangedui dat sy skuldig wil pleit in terme van ‘n skuldooreenkoms wat sy met die Staat aangaan het.
Die eerste getuie was die vriend van Mulaudzi, Tirhani Ignitcus Nemudzivhadi, wat gesien het wat dié noodlottige dag gebeur het. Nemudzivhadi het getuig dat hy en Mulaudzi in Groblerstraat afgestap het, nadat hulle eers bier gedrink het by ‘n plaaslike sjebeen. “Ons was onder die invloed, maar kon nog onderskei tussen reg en verkeerd,” het Nemudzivhadi getuig. Nadat Mushiane en haar kollega hulle in Groblerstraat voorgekeer het, het Mulaudzi, volgens Nemudzivhadi, gesê hy sal alleen met hulle praat en dat Nemudzivhadi maar solank moet aanstap.
“Toe ek terugkyk was die polisievrou, wat aan die passasierskant uitgeklim het, besig om hom [Mulaudzi], aan die arm te trek sodat hy in die vangwa moet klim,” het Nemudzivhadi gesê. Die konstabel wat aan die bestuurderskant gesit het van die vangwa, Mushiane, het uitgespring om die kollega te help. Nemudzivhadi het getuig dat hy gesien het hoe Mushiane vir Mulaudzi aan sy ander arm gegryp en hom ook in die vangwa probeer prop het. “Sy het toe haar vuurwapen uitgehaal en vir Mulaudzi drie keer oor die kop daarmee geslaan. Die vierde keer het daar ‘n skoot afgegaan, en Mulaudzi het op die grond geval. Sy [Mushiane] het geskreeu ‘Wat het ek nou gedoen?’”
Nadat Mushiane skuldig gepleit het, het sy by monde van haar prokureur, mnr. Ramono, gesê sy is jammer oor dit wat sy gedoen het.
Dit was egter nadat die Staat aangevra het dat Mushiane onbevoeg verklaar word om ‘n vuurwapen te besit, dat haar prokureur protes aangeteken het. Mushiane is nog in diens van die polisie. “Om haar vuurwapen van haar af weg te vat, sal wees soos om haar suurstof weg te vat, want dan sal sy nie haar werk kan doen nie,” het die prokureur gesê.
Hierdie onthulling het ernstige vrae laat ontstaan oor Mushiane se bevoegdheid as ‘n aktiewe lid van die polisiemag. Die polisie se provinsiale kommunikasiekantoor is Maandag genader met vrae oor Mushiane en om uit te vind of sy afgedank is na die hof se bevel. Dié vrae is Dinsdag weer opgevolg, maar teen druktyd het die provinsiale woordvoerders net ontvangs erken van die koerant se e-pos. Brig Hangwani Mulaudzi het by monde van kapt. Maano Sadike gesê dat hy aandag aan die koerant se vrae sal gee sodra hy terugkeer het van Malamulele af. Mulaudzi was Woensdag daar, nadat daar hierdie week weereens onrus weens swak dienslewering uitgebreek het.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
