

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 October 2013
Die munisipale stortingsterrein buite Makhado (Louis Trichardt) is nie meer ‘n ramp wat wag om te gebeur nie; dit is ‘n ramp en die “wit bevolking” moet asseblief ‘n plan maak.
Vir die soveelste keer hierdie jaar het die stortingsterrein verlede week uit sy nate gebars. Soveel so dat die toegangshekke Woensdag gesluit is, en radelose inwoners hulle vragte vullis voor die hek afgelaai het. Teen die middag was daar net berge vullis so ver as mens kon sien. Die toegangspad was verberg agter die hope vullis, en langs die Vondelingpad (wat toegang verleen tot die terrein) was daar eweneens hope vullis gestort.
Stortingsterreinbewoners het uit die vullis ‘n plakkaat gepraktiseer om hulle lot by die dorp se blanke inwoners te bepleit. “Pliz Whites Make A Plan Pliz [sic]” het die plakkaat gelees wat staan gemaak is langs sakke vullis. Van hierdie bewoners was Woensdag, tydens die Zoutpansberger se besoek aan die terrein, besig om tussen die vlieë en rommel rond te krap vir iets om te red. “Help ons asseblief … kyk hoe lyk dit hier,” het hulle aan die koerant se joernaliste gesê. Volgens die inwoners is die munisipaliteit se tru-grawers al vir drie weke lank buite werking. “Dit is hoekom hulle [munisipaliteit] die rubbish aan die brand steek elke keer,” het een man gesê, wat nie sy naam wou gee nie. Daar was ook glo gerugte dat munisipale werkers opdrag gegee is om die hekke van die terrein te sluit en inwoners toe te laat om vullis langs die pad af te gooi.
Inwoners van die Vondelingplotte, naby die terrein, het ook gesê die situasie by die stortingsterrein raak onuithoudbaar. Een so ‘n inwoner, mnr. Jan Malan, het Donderdag vertel dat die Vondelingpad Woensdagmiddag 17:00 begrawe was onder die vullis. Motoriste kon glo glad nie verbykom nie. Gelukkig, vertel Malan, het die plaaslike Departement van Paaie en Vervoer ‘n padskraper gestuur om ‘n pad oop te stoot sodat motoriste kon deurkom.
“Niemand vat verantwoordelikheid nie, maar dit is maar oraait,” het Malan gesê. Hy is ‘n vlooteienaar en sy vragmotors moet gereeld oor die pad ry. So het hy al derduisende rande afgestaan aan bande wat gesny word deur afvalysters wat op die Vondelingpad weggegooi word, in stede van binne die terrein. Malan het ook vertel dat hy Woensdag, op pad dorp toe, gesien het hoe ‘n munisipale vullisvoertuig “net so – in ons ryvlak – in die pad sy vrag afgooi.”
Van al hierdie dinge het die munisipaliteit bitter min geweet. Die blaam moet gedra word deur die dorp se “vullisproduseerders.” Só het die Makhado Munisipaliteit geantwoord op navrae van die Zoutpansberger.
“Die hek na die stortingsterrein is altyd oop en dit is ook onwaar dat die munisipaliteit se tru-grawers stukkend was,” het die munisipaliteit Vrydag gesê. Die munisipaliteit het verder ontken dat hulle werknemers opdrag gegee is om die hek te sluit. “Vullisprodusente wat vullis langs die pad weggegooi het, het daartoe gelei dat ons vragmotors nie vullis by die atortingsterrein kon aflewer nie.”
Vrae rondom die ontwikkeling van ‘n nuwe stortingsterrein is ook vaagweg beantwoord. “Ons verwag om die bouterrein teen die einde van Oktober aan die diensverskaffer te oorhandig,” het die munisipaliteit gesê. Die munisipaliteit is Maandag en Dinsdag weer genader met spesifieke vrae soos wie die nuwe diensverskaffer is. ‘n Foto, wat die koerant verlede Woensdag geneem het van die toegangshek wat toegesluit staan onder die vullis, is ook aan die munisipaliteit gestuur.
Teen druktyd is daar nog gewag op ‘n antwoord van die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi. Hy was uitstedig en het Dinsdag gevra dat die koerant die opvolgvrae aan hom stuur.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
