

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 October 2013
Na 20 jaar en nege maande verlaat mnr. Henry Denner Hoërskool Louis Trichardt, waar hy beide as adjunkhoof en hoof vir etlike jare opgetree het.
“Ek neem afskeid van ‘n gemeenskap wat net goed vir my en my gesin was," sê Denner. Hy en sy vrou, Adri, het 'n vervroegde aftrede aangevra en verhuis na Gordonsbaai.
Denner se verbintenis met Hoërskool Louis Trichardt begin op 1 Januarie 1993 met sy aanstelling as adjunkhoof. Die Denner-gesin het vanaf Hartbeespoort verhuis en hul intrek in die meisieskoshuis geneem, en Denner dien as senior huisvader daar van 1994 tot 2007. Intussen slaag hy die graad BEd (Onderwysbestuur) met lof. Na wyle mnr. Pikkie Truter se aftrede as hoof aan die einde van 1996, neem Denner vir vier maande waar en word op 1 Mei 1998 as hoof aangestel.
Denner se groot omgee vir die kinders straal uit sy woorde. “Vir ‘n hoof kan daar geen groter vreugde wees as dat sy skool se kinders die kanse wat die lewe hul bied, aangryp en sukses behaal nie. Dit geld vir die swak outjie wat met harde werk slaag, vir die topkandidate wat die onderskeidings inoes, maar veel meer vir die naamlys van gelukwensings wat die universiteite van tyd tot tyd stuur van oudleerlinge wat kwalifikasies voltooi, tot elkeen wat ek oor die jare die voorreg gehad het om oor die wêreld raak te loop en te hoor dat Hoërskool Louis Trichardt hulle ‘n goeie wegspring gegee het om die korporatiewe leer in die lewe te kon klim,” sê Denner.
Denner het in vele fasette diep spore in die onderwys getrap. Hy het op verskeie departementele taakspanne in die distrik, provinsie en land gedien. Vir baie jare was hy op die SAOU-vakbond se provinsiale bestuur waar hy hoofsaaklik die portefeuljes kurrikulum en eksamen, maar ook koshuise, hanteer het.
Denner en Geografie is amper sinonieme. Hy gee verskeie jare vir die matrieks klas en was vir 16 jaar hoofeksaminator of -nasiener van Geografie in Limpopo. Hy het ook provinsiale en nasionale vraestelle opgestel, in verskeie provinsiale en nasionale komitees in die vak gedien en was betrokke by die opstel van die nasionale assesseringsriglyne vir Graad 12, handboekkeuring vir die nuwe sillabusse wat ingestel is en die skryf van werksprogramme vir al die grade.
Op die sportveld was Denner ‘n bekende gesig. “Die afrigting van kinders op die sportveld en die leer van die ‘ander sy’ van baie kinders in die minder formele opset, is ‘n passie wat ek waarskynlik die meeste sal mis in die onderwys,” sê Denner.
Denner bedank graag die personeel, beheerliggaam en ouers. “Gedurende die jare het puik personeellede die skool se stoepe bewandel, mense wat die titel ‘groot geeste’ met reg verdien het; so ook die huidige personeel wat ek in 2013 in die personeelkamer agterlaat. Dit was altyd maklik om mense te motiveer omdat hulle passievol oor die onderwys is en glo in wat hulle doen,” sê Denner en voeg by dat hy die voorreg gehad het om met puik mense uit die gemeenskap as beheerliggaamvoorsitters saam te werk. Aan die ouers van die gemeenskap sê Denner: “Dankie aan elkeen wat oor die jare verstaan het dat wat by die skool gedoen word net een doel voor oë het: om die beste vir u kind te doen en die beste uit hom of haar te haal. Dankie vir elke ondersteunende woord, elke mooi gebaar en elke keer wat u daar vir u seun of dogter was.”
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
