ADVERTISEMENT:

 

Boere bekommerd oor landelike veiligheid

 

News  Date: 26 April 2002

 

WATERPOORT – Die Soutpansberg Distrikslandbou-unie het sterk standpunt ingeneem oor die veiligheidsituasie in die platteland.

Die unie se Hoofraad het dringende vertoë tot die owerheid gerig dat die veiligheidsmagte doelgerig moet optree teen die toenemende instroming van onwettige immigrante uit Zimbabwe.

Die vergadering het besluit om nou oor te gaan tot die implementering van die Plattelandse Beveiligingsplan van die Transvaalse Landbou-unie, weens die verslegtende toestand.

Op die jongste Hoofraadsvergadering van die Distrikslandbou-unie is kennis geneem van letterlik honderde mense wat oënskynlik ongehinderd oor die grens stroom. Vanaf die kleiner spoorwegstasies op afgeleë plekke in die verre noorde word berig ontvang van tientalle onwettige immigrante wat daagliks op die trein klim om verder die binneland in te beweeg, nadat hulle die grens onwettiglik oorgesteek het.

Die vergadering het kennis geneem dat die toestroming onmiddellik na afloop van die verkiesing in Zimbabwe begin het. Voorvalle is aangemeld van onwettiges wat in groepe van tot dertig in die gebiede rondbeweeg. Van hulle kom op plase aan en eis voedsel.

In die omgewing van Tshipise is 'n groep van 300 onwettiges aangemeld wat in die Njelele-vallei skuil. Veiligheidsmagte het twee weke gelede in 'n optrede 120 aangekeer.

Op die vergadering is gemeld dat inwoners van die plattelandse gebiede hulleself toenemend onveilig voel, veral na voorvalle soos die moord op Rudi Schmidt. Op sommige plase is die afgelope weke aangemeld dat kosvoorrade van die plaaswerkers verdwyn. Onwettiges wat op plase opdaag is dikwels arrogant en aggressief.

Die vergadering het die veiligheidsmagte versoek om beslis op te tree. Hulle behoort oorweging te skenk aan aanhoudingsfasiliteite, aangesien dit uiters moeilik is vir mense wat verdagtes aankeer om hulle tydig aan die gereg uit te lewer.

'n Woordvoerder, Gideon Meiring, het gesê die situasie het ernstige implikasies vir landelike veiligheid, veral weens die feit dat die veiligheidsmagte weens militêre avonture elders in die buiteland so afgeskaal is dat hulle nie die grens doeltreffend kan beveilig nie.

Die mening is op die vergadering uitgespreek dat die verslegtende situasie deels toegeskryf kan word aan die roekelose wyse waarop Zimbabwe se landbouproduksie deur Mugabe vernietig is. Die regering het nou 'n verantwoordelikheid om toe te sien dat die plaaslike landbouproduksie beveilig word. Voorbereidings is reeds aan die gang om die Transvaalse Landbou-unie se Landelike Be-veiligingsplan in werking te stel. 'n Koördineringsvergadering word op 1 Mei gehou met die oog op die aanvang van opleidingsessies, wat in samewerking met die veiligheidsmagte moet geskied. Die vergadering het besluit hierdie stappe is nodig, omdat die veiligheidsmagte op hul eie nie die vermoë het om die mense gerus te laat voel nie.

Op dieselfde vergadering is bekend gemaak dat 'n vergadering op 24 April gehou sal word met ESKOM oor die daarstelling van forums vir kragtariewe.

Lede van die landbou-unie is ook verwittig van 'n moontlike vergadering met die Provinsiale LUR vir Landbousake. Lede het laat blyk dat hulle nie gediend is met die LUR se algemene houding teenoor georganiseerde landbou nie.

Berigte van 'n nuwe uitbreking van Bek-en-Klouseer twintig kilometer noord van Beitbrug is met kommer begroet op die vergadering. Lede was dit eens dat die gevolge van so 'n uitbreking uiters ernstig kan wees as dit nie verantwoordelik beheer word nie. Verantwoordelike beheer binne Zimbabwe is vir 'n geruime tyd reeds onder verdenking.

Ander sake wat op die vergadering bespreek is sluit in:

* 'n Bosveldfees word beplan vir die einde van Augustus.

* Kommer is uitge-spreek oor die verslegtende toestand van sekondêre paaie in die Soutpansberg area.

"Tot op datum het ons goeie samewerking met Openbare Werke geniet met die klem op paaie. Daar is nou egter 'n duidelike agteruitgang," het die woordvoerder gesê. Die swak toestand van paaie het 'n uiters nadelige uitwerking op doeltreffende landbouproduksie en bemarking.

* Die vergadering het weereens 'n sterk standpunt ingeneem ten opsigte van die naamsveranderingsfiasko in Louis Trichardt. Die vergadering het sy steun toegesê aan organisasies wat die onverantwoordelike optrede rondom die ongevraagde naamsveranderingspoging beveg.

"Uit beginsel sal ons geen ondeurdagte optrede van die betrokke owerheid duld nie," het die vergadering besluit.

* Die vergadering het kennis geneem van 'n ontmoeting met Spoornet in verband met die doeltreffende bekamping van moontlike wegholbrande langs spoorlyne.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines