

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 July 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Wydverspreide ongelukkigheid heers tans onder padgebruikers oor die swak toestand van sekondêre- en gruispaaie in die streek. Dit blyk egter dat dié probleem binnekort aangespreek sal word.
Die evaluering van teer- en gruispaaie in die streek is tans aan die gang en sal teen 17 Augustus afgehandel wees. Laasgenoemde is bevestig deur mnr. Jerome Maimele, die Padagentskap Limpopo (RAL) se Algemene Bestuurder: Beplanning en Ontwerp. Strategiese beplanning sal volgens die uitslag van die evaluasie gedoen word.
‘n Konsortium van maatskappye is verantwoordelik vir die evaluasieproses. Teerpaaie word in 2km seksies opgedeel vir volledige opname en by gruispaaie word vir elke 5km ‘n volledige opname gedoen. Dit is ‘n tegniese inspeksie waarin ‘n opname van huidige en toekomstige probleme gemaak word. Die veiligheidsapsekte, soos gebreekte kante van die pad en oorgroeiing, word ook aangeteken.
Die paaie oos van die N1 in die Levubu area se opname is nog in proses. Een van die gedeeltes wat alreeds afgehandel is, is die gedeelte wes van die N1 en noord van die Soutpansberg, ‘n gedeelte wat sowat 500 tot 600km paaie behels. Die gehalte van paaie in daardie omgewing wissel van redelik tot uiters swak. Bestuurders wat byvoorbeeld die pad gebruik wat uit die Waterpoortpad noord draai in die Brombeeck-area, bevestig dat daardie pad uiters swak is. ‘n Voertuig kan slegs op die sandwal ry en dan moet die voertuig nie ‘n gewone sedan wees nie. Die feit dat ‘n pad in ‘n baie swak toestand is, impliseer egter nie dat die pad eerste aan die beurt sal kom met herstelwerk nie, aangesien die aantal padgebruikers ook ‘n belangrike faktor is.
Die Louis Trichardt/Vivo-pad het weer die probleem dat die slegte gedeeltes herstel is, maar dat die gedeeltes tussenin nou weer versleg het. Die toestand van die pad wissel ook van goed tot uiters swak.
Mnr. Fritz Ahrens, voorsitter van TLUSA Louis Trichardt en lid van die dagbestuur van die Distrikslandbou-unie, sê dat die hoofroete na Thohoyandou ook weer tot niet gaan. Mnr Ahrens is woonagtig in Levubu.
"‘n Paar maande terug is gedeeltes nuut oorgebou op die Levubupad en baie geld gespandeer. Daar is al weer gate en dit is terug waar dit was," sê mnr. Ahrens. Daar word ook gekla dat die teerryvlak van die pad by Royal Macadamia, waar die pad verbreed is, weer besig is om te verkrummel. Gebruikers van die Beja-pad, soos mev. Bettie Malan, ondervind ook probleme met daardie pad, waarvan die toestand deur mnr. Ahrens as "haglik" beskryf is.
Mnr. Martin Armitage sê dat die landelike paaie waarop hy moet beweeg, nog veel erger is. Daar is nie eers sprake van gereelde skraping nie. In die algemeen is motoriste raadop met paaie. Gruispaaie word sporadies geskraap en nie weer herbegruis nie.
"Paaie is slegter as ooit tevore. Die probleem is dat onderhoud nie betyds gedoen word nie en die werk is onder standaard," sê mnr. Ahrens.
Mnr. Maimele van RAL het gesê dat hy nie saamstem met die siening dat paaie agteruitgaan nie.
"Na die herstelwerk van die vloedskade aan paaie, was daar ‘n groot verbetering," het mnr. Maimele gesê.
Nog ‘n groot bron van frustrasie vir besoekers, en selfs inwoners van die dorp, is dat paaie goedsmoeds afgekamp word sonder behoorlike padaanwysings. Dit het veral betrekking op die huidige opgradering van die N1 deur die dorp. ‘n Toeris het verlede week ‘n halfuur lank verdwaal voordat hy weer sy pad na die N1 kon terugvind. Ook inwoners het al hulle rieme styf geloop met ompaaie naby die skouterrein en Eltivillas. Roetewysers wat die omweg aandui, kan maklik tydverlies en frustrasie voorkom.
Wat die skraping van paaie betref, werk die Departement van Openbare Werke volgens ‘n program om die paaie te skraap, moontlik elke tweede of derde maand. Masjinerie word gehuur as daar nie masjinerie in werkende toestand is nie. Masjinerie wat nie meer herstel kan word nie, word van die hand gesit. Teen druktyd kon die kantoor in Polokwane nog nie syfers verskaf oor die aantal skrapers wat in die Louis Trichardt omgewing beskikbaar is nie.

ADVERTISEMENT:
