ADVERTISEMENT:

 

Eerste skooltjie noord van Oranje het op Louis Trichardt verrys

 

News  Date: 26 April 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Een van die belangrikste datums op die Onderwyskalender in die Noordelike Provinsie is vandeesweek op die dorp herdenk.

Die beduidende bydrae van die pionier Louis Trichardt om 'n kultuur van Onderwys in die Noorde van die huidige Suid-Afrika te vestig, is herdenk tydens 'n byeenkoms by 'n gedenksteen digby die Geloftekerk op die dorp.

Jongmense is by die geleentheid aangemoedig om die beste gebruik te maak van die beskikbare onderwysgeleenthede. Hulle is ook bemoedig met 'n opwindende toekomsvisie.

Gelowige Suid-Afrikaner jongmense kan die toekoms met positiewe blymoedigheid tegemoet gaan, ongeag die huidige omstandighede.

Hierdie oproep tot 'n positiewe lewenshouding is gerig tydens die herdenking van die ingebruikneming van die heel eerste skoolgebou Noord van die Oranjerivier.

Luidens 'n inskrywing in die dagboek van die Voortrekkerleier, Louis Trichardt, is die eerste skoolgeboutjie Noord van die Oranjerivier, op sy trek se staanplek digby die huidige dorp op 22 April 1837 betrek. Die skoolgeboutjie van pale met 'n rietdak, is opgerig op die staanplek wat deur die destydse Opperhoof van die Vendas aan die Voortrekkerleier beskikbaar gestel is. 'n Hegte vertrouensverhouding het tussen die Voortrekkerleier en die Venda-leier ontstaan, deur die bemiddeling van die nasate van Coenrad Buys

Na aanleiding van Habakuk 1, het Dr Philip Venter tydens die opening van 'n huldigingsgeleentheid gesê Christene het goeie rede om die toekoms met oorweldigende positiewe verwagtinge tegemoet te gaan.

Die herdenking het plaasgevind by die gedenksteen wat etlike jare gelede deur die Rapportryers op Voortrekkerplein op Louis Trichardt onthul is om die belangrike historiese feit te beklemtoon.

Die gedenksteen is op die area reg oorkant die Geloftekerk, waar ook 'n monument opgerig is om die stigting en naamgewing van die dorp te herdenk.

Die Monument is opgerig op die plek waar Louis Trichardt 'n handelsending vanaf die Mosambiekse kus, tesame met verteenwoordigers van die Sjangaans en van die Buyse, ontmoet het.

Op dieselfde plek is later, voor die oprigting van die dorp, besluit om die beplande dorp na die pionier Louis Trichardt te vernoem, om sy veelsydige baanbrekerswerk ten opsigte van die handel en nywerheid, landbou en onderwys te huldig.

Die monument is een van die historiese besienswaardighede op die toerisme roete wat gereeld deur buitelandse besoekers gebruik word.

Louis Trichardt was 'n regstreekse afstammeling van 'n Franse Hugenote familie wat terwille van hul Christelike geloof uit Frankryk na Suid-Afrika gekom het

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines