

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 October 2013
Die polisiekonstabel van Makhado (Louis Trichardt) wat skuld erken het dat haar nalatigheid die dood van die 33-jarige mnr. Justice Mulaudzi veroorsaak het, se vuurwapen is van haar af weggevat.
Dit het tydens die 32-jarige konst. Ndivhuwo Caroline Mushiane van die Makhado SAPD se hofsaak aan die lig gekom dat sy nooit dissiplinêr verhoor is ná die skietvoorval waarin Mulaudzi dood is nie. Mushiane het op 9 Oktober in die Louis Trichardt Streekhof skuld erken op ‘n klag van strafbare manslag en ‘n klag van aanranding in verband met dié voorval. Mulaudzi is noodlottig deur Mushiane in die kop geskiet tydens ‘n voorval in Augustus verlede jaar. Mulaudzi is dood nadat hy in ‘n struweling betrokke geraak het met Mushiane en ‘n kollega.
Mushiane is aanvanklik van moord aangekla, maar in terme van ‘n pleitooreenkoms met die Staat het sy op die mindere klagte gepleit en sy is gevonnis. Vir altwee klagtes is sy ‘n boete van R10 000 opgelê, waarvan die helfte opgeskort is. Tydens haar hofsaak het Mushiane se prokureur erken dat haar vuurwapen nooit van haar weggevat is nie. Hy het protes aangeteken teen die Staat se aansoek dat Mushiane onbevoeg verklaar word om ‘n vuurwapen te besit.
‘n Provinsiale polisiewoordvoerder, konst. Tsietsi Lamola, het hierdie week herken dat Mushiane se vuurwapen wel weggevat is ná die hofbevel. Mushiane is, so ver daar vasgestel kon word, nie dissiplinêr verhoor nie, maar net verskuif na ‘n ander afdeling in die polisie.
“Ons bevestig dat konst. Mushiane in geen omstandighede meer gewapen sal wees met ‘n vuurwapen om haar pligte uit te voer nie, en ook nie ‘n privaat wapen besit nie. Ons bevestig verder dat Mushiane nog steeds ‘n aktiewe polisie-amptenaar is wat nog steeds die gemeenskap sal dien in Makhado,” het Lamola gesê.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
