

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 October 2013
Die Makhado Munisipaliteit het vandeesweek erken dat hulle tru-grawers wel buite werking was en dat die hekke van die munisipale stortingsterrein wel gesluit was vir die publiek.
Die munisipaliteit het vandeesweek gereageer op vrae rondom die totale verval van die munisipale stortingsterrein. Toegangshekke by die terrein was voorverlede week gesluit vir die publiek, en radelose inwoners het toe maar begin om hul vullis voor die hek en langs die Vondelingpad te stort. Verlede week het daar ‘n berig op die voorblad van die Zoutpansberger hieroor verskyn.
In die munisipaliteit se aanvanklike kommentaar het hulle ontken dat daar ‘n probleem by die stortingsterrein is. Blaam is na die dorp se inwoners, oftewel “vullisstorters” verskuif. Die kommunikasiekantoor van die munisipaliteit het ontken dat die toegangshekke ooit gesluit was, of dat hulle masjinerie stukkend was.
Eers nadat ‘n foto van die hek, wat toe staan onder hope vullis, aan munisipale woordvoerder Louis Bobodi gestuur is, het hy erken dat daar probleme was by die terrein.
“Ons masjiene was toe buite werking gewees, en die vullis [het gelê] tot by die ingangshek; vandaar dat motors nie toegang tot die terrein kon kry nie. Dit is waarom die hek gesluit was,” het Bobodi Dinsdag in ‘n e-pos gesê. Hy wou hom nie uitlaat oor bewerings dat munisipale amptenare werknemers op die terrein opdrag gegee het om die hekke te sluit en inwoners opdrag gegee het om hulle vullis langs die Vondelingpad te gooi nie. Bobodi het wel erken dat daar munisipale personeel en sekuriteitswagte daardie dag teenwoordig was op die terrein.
Vrae oor wie die munisipale stortingsterrein gedurende September elke keer aan die brand gesteek het as vullis begin ophoop het, is deur Bobodi geïgnoreer. Daar is ‘n toenemende persepsie dat dit die munisipaliteit self is wat die vullis aan die brand steek, omdat hulle sukkel om die hoeveelheid vullis te beheer.
Verder het Bobodi gesê dat die nuwe stortingsterrein nie meer aan die einde van Oktober aan die diensverskaffer oorhandig gaan word nie. Hy het erken dat die tender vir die nuwe terrein eers gedurende die eerste week van Oktober goedgekeur is.
“Die ontwikkeling van die [nuwe] terrein sal binnekort plaasvind, ná die oorhandiging daarvan, wat volgende maand sal geskied,” het Bobodi gesê.
‘n Dag na die berig in die Zoutpansberger verskyn het, is daar opgemerk dat ‘n tru-grawer die pad na die stortingsterrein gaan oopstoot het.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
