

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 October 2013
Die Makhado Munisipaliteit waarsku elektrisiëns wat krag onwettig aanskakel dat hulle aan die pen sal ry. Verbruikers sal die groot boete wat met onwettige aanskakeling gepaardgaan, vryspring as hulle die naam en besonderhede van sodanige elektrisiën verskaf.
Die munisipaliteit se stryd teen onwettige elektrisiteitkoppeling, asook die warboel in munisipale geledere, het na vore gekom met die geval van mnr. Pieter Delport, wat die afgelope sewe weke sonder krag sit. Hy en sy twee jonger broers bly in ‘n huurhuis wat hulle pa vantevore gehuur het. “My pa het sy werk in Louis Trichardt verloor en toe verhuis. In die aantal maande wat hy nie werk gehad het nie, het die kragrekening agter geraak,” vertel Delport. Hy het die munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, op 11 Oktober oor sy kragprobleme kom sien.
Die munisipaliteit se prosedure is om ‘n verbruiker wat agterstallig raak op ‘n afsnylys te plaas en dan die stroombreker uit die kragboks te verwyder, wat in hulle geval gebeur het.
“Hoe sou hulle gevoel het as hulle in my skoene gestaan het? Ons was besig om al die kos in die vrieskas te verloor. ‘n Elektrisiën met die naam Alone het gesê hy sal dit vir my kom koppel. Ons het agterstallige skuld van R6 500 in paaiemente afbetaal. Ek het hulle gebel en gesê hulle moet die stroombreker kom terugsit. Die munisipaliteit het egter intussen die hele kragboks kom verwyder. Ons het glad nie krag gesteel nie, want die elektrisiteit het nog steeds deur die meter gehardloop,” sê Delport.
Die munisipaliteit beskou egter die onwettige gepeuter met die elektrisiteitsmeter in ‘n baie ernstige lig, ingevolge Artikel 26 van die Standaard Nasionale Elektrisiteitsbywette, en het die meter verwyder volgens Artikel 21 van dieselfde wet. Die boete vir peuter aan die meter is meer as R10 000.
Ná die hele kragboks verwyder is, het Delport navraag by die munisipaliteit gedoen om ‘n voorafbetaalde kragtoestel te installeer. “Hulle het vir my gesê dat ek eers alle agterstallige gelde moet vereffen, waarna ek die Prepaid-kragboks betaal het,” sê Delport. Die agterstallige bedrae wat aan hom gegee is en wat hy op 2 September betaal het, was R1 435 en R1 816, en die oorskakeling na voorafbetaalde krag het R3 813 gekos. Die toestel is op 4 September geïnstalleer, maar na 24 uur het die munisipaliteit dit weer kom verwyder. ‘n Ontstelde Delport het na ‘n prokureur gegaan, wat ‘n brief aan die munisipaliteit gerig het. Hy het later besef dat verdere stappe hom R10 000 sou kos.
“Op 7 Oktober is by die munisipaliteit aan my gesê dat my broers, wat voorheen die munisipaliteit besoek het, geweier het om die elektrisiën se naam te gee en ek het gesê dat hulle nou met die regte persoon praat wat die naam kan verskaf. Daar is aan my gesê dat dit nou te laat was daarvoor,” sê Delport. Die elektrisiën het egter intussen sy selnommer verander.
Mutshinyali het die erns van die saak van onwettige koppeling van elektrisiteit aan Delport verduidelik en gesê dat dit algemeen voorkom en dat sulke elektrisiëns doelbewus onwettig optree. “Dit het voorgekom asof julle die sisteem probeer ontduik het. Die fout wat die munisipaliteit gemaak het, was om jou toe te laat om van konvensionele krag na voorafbetaalde krag oor te skakel, terwyl daar ‘n uitstaande boete is omdat daar onwettig aan die sisteem gepeuter is,” het Mutshinyali gesê. Hy het ‘n toegewing gemaak dat die boete oor ses maande afbetaal mag word en dat ‘n nuwe konvensionele kragtoestel geïnstalleer sal word nadat Delport ‘n beëdigde verklaring gebring het. Delport het dit dieselfde dag ingehandig. Teen druktyd hierdie week het hy egter nog nie krag gehad nie.
Mnr. Phillip Olivier, bestuurder van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging, sê dat hy al seker 10 gevalle van werklike kragstelery teëgekom het en dat hy van heelwat mense weet wie se toevoer beëindig is en wat "regtig nie meer 'n druppel krag kry nie."
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
