

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 April 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Massiewe verlies aan drinkwater is die afgelope naweek veroorsaak deur 'n gebarste waterpyp op Louis Trichardt.
Na raming het die dorp se hoofwaterreservoir sowat 26 persent van sy inhoud verloor, toe 'n vertakking van die hooftoevoerpyp vanaf die Albasini-moederpypleiding gebars het. Die hele stelsel lewer tans net genoeg water vir normale gebruik. Enige abnormale verlies kan ernstige probleme meebring. Dit kan etlike weke duur voordat die watervlak in die opgaardam weer normaal sal wees.
Op plekke in die dorp is die naweek tydelik probleme met swak waterdruk ondervind na die massiewe verlies van water uit die stelsel.
Die vertakking van die hoofpypleiding na die westelike (Tshikota) reservoir het vroeg Saterdagoggend (omstreeks 02:15) weens 'n onbekende rede gebars. Hoewel die breuk bykans onmiddellik aangemeld is en herstelwerk etlike minute later begin het, was die breuk so ernstig dat die grootskaalse verlies van water nie voorkom kon word nie. Dit het sowat anderhalfuur geduur om die gebarste pyp af te sluit. 'n Nuwe pyp is aangebring en herstelwerk aan die pypleiding en die straatoppervlak is Dinsdag voltooi. Die straat was sedert Saterdag gesluit.
Die munisipale woordvoerder het waardering uitgespreek teenoor die publiek wat die breuk aangemeld het. Hy sê dit is uiters belangrik dat lekkasies so spoedig moontlik aangemeld word en die publiek speel hier 'n gewaardeerde rol. Hy het ook waardering uitgespreek vir die begrip wat mense aan die dag gelê het vir die probleme wat gevolg het op die breuk. 'n Nabygeleë tuin is heeltemal oorspoel en 'n paar huishoudings het probleme ondervind met die lae waterdruk.
'n Woorvoerder van die stadsraad het inwoners van Louis Trichardt versoek om water uiters oordeelkundig te gebruik. Tuine behoort nie op die warmste tyd van die dag natgelei te word nie. Na vyfuur in die middag is die beste tyd. Inwoners is ook versoek om nie water te verkwis op die afspuit van opritte by hul persele nie. Verbruikers behoort hulle daarop in te stel om water so voordelig as moontlik te gebruik.
Hy sê hoewel die Albasinidam se watervlak nog besonder hoog is, is dit 'n duur en tydrowende proses om die water vanaf die Albasinidam deur die suiweringsaanleg tot by die dorp se opgaargeriewe te bring.

ADVERTISEMENT:
