

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 July 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Lede van die plaaslike nood- en reddingsdienste het die afgelope week ‘n geweldige toename in die hoeveelheid ongelukke op die streek se paaie beleef.
Kommerwekkend is die feit dat sowat 80% van die ongelukke aan menslike foute toegeskryf kan word, met drank en spoed wat in sowat 20% van die gevalle ‘n rol gespeel het. Die toename in die getal ongelukke is toegeskryf aan die huidige skoolvakansie, asook die feit dat dit maandeinde is. Plaaslike verkeersowerhede verwag ‘n verder toename in ongelukke, namate die skoolvakansie einde se kant toe staan en mense terugkeer huis toe.
Die mees ernstige ongeluk die afgelope week het Saterdag omstreeks 15:00 op die Vivo-pad plaasgevind. Twee tiener-susters, wat saam met ‘n oom en tannie onderweg was na Buysdorp vir ‘n begrafnis die volgende dag, is op slag dood, nadat die voertuig waarin hulle op reis was, gerol het. Beide is uit die voertuig geslinger.
Verkeersvloei is later Saterdagaand by die Songozwi/Kroghstraat-kruising ontwrig toe ‘n motoris een van die verkeersligte by die kruising uitgejaag het. Dit het gebeur nadat hy met ‘n ander voertuig in die kruising gebots het, wat na bewering onderweg was na die hospitaal.
Inwoners het ook kennis geneem van die talle ongelukke die afgelope week by die Stubbsstraat/N1-kruising. Die afgelope maand het daar reeds ses ongelukke plaasgevind, gelukkig nie een noodlottig nie. Motoriste raak klaarblyklik verward met die groot hoeveelheid verkeerstekens in aanloop tot die kruising en besef te laat dat hulle moet stop.

ADVERTISEMENT:
