

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 April 2002
LOUIS TRICHARDT - 'n Vertraging in die uitbetaling van pensioene by talle landelike poskantore, het verlede week grootskaalse ongelukkigheid veroorsaak.
Aanvanklik het pensioenarisse die vertraging voor die deur van die poskantoor gelê, maar later het dit aan die lig gekom dat die poskantoor inderdaad nie verantwoordelik was vir die vertraging nie. Pensioene wat op 5 April uitbetaal moes word, is uiteindelik eers op 12 April uitbetaal. Die vertraging het hoofsaaklik voorgekom by poskantore in landelike gebiede wat nie oor 'n aanlyn-rekenaarstelsel beskik nie. Groter poskantore wat oor aanlyn-rekenaarstelsels beskik, soos die een op Louis Trichardt, het geen probleme ondervind met die uitbetaling van pensioene nie.
Mnr. Aluwani Netsianda, 'n woordvoerder van die Departement Gesondheid in Pietersburg, het Woensdag erken dat die vertraging deur hulle veroorsaak is. Hy het verduidelik dat daar 'n probleem ondervind is met die oorskakeling van die ou pensioenkaartstelsel na die nuwe gerekenariseerde stelsel. Hy het die probleem as 'n "groeipyn" beskryf en die hoop uitgespreek dat dit nie weer sal gebeur nie. Hy het ook namens die Departement om verskoning gevra vir enige ongerief wat vanweë die vertraging veroorsaak is.

ADVERTISEMENT:
