

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 November 2013
Die Voorsittersvereniging (VV) het vordering gemaak in hul volgehoue poging om die Makhado-naam van die dorp tersyde gestel te kry.
Dit volg nadat ‘n jarelange stryd om dokumente uit die verskillende instansies gemoeid met plekname te kry, onlangs gewen is toe die VV dokumente wat 2 000 blaaie beslaan, ontvang het.
Die VV staan midde in hul tweede hofstryd om die naam van die dorp terug te laat verander na Louis Trichardt.
“Wat is ons dorp se naam nou, Makhado of Louis Trichardt?” het een van die lede wat die AfriForum jaarvergadering op 10 Oktober bygewoon het, gevra. Baie inwoners het al langs die pad tred verloor met die verloop van al die naamsveranderinge van die dorp.
Die eerste naamstryd het in 2003 begin toe die dorp Louis Trichardt se nuwe naam, Makhado, in die staatskoerant afgekondig is. Na uitgerekte hofsake wat in die appèlhof gedraai het, is die naam Makhado in 2007 tersyde gestel en was die dorp se naam weer Louis Trichardt. Die Makhado Munisipaliteit het hul prosesse om die naam weer te verander aan die gang gesit, en op 14 Oktober 2011 is die dorp se naamsverandering vir die tweede keer in die staatskoerant gepubliseer. Die VV het ‘n tydige beswaar ingedien en in die beswaartydperk was die dorp se naam eintlik wetlik nog Louis Trichardt. Dié beswaar is eers op 10 Mei 2012 amptelik deur Kuns en Kultuurminister Paul Mashatile verwerp, wat beteken dat die dorp se naam vanaf Mei laasjaar wetlik Makhado was. Die dorp se naam bly Makhado, totdat dit deur ‘n hof tersyde gestel word.
Tans moet die 2 000 blaaie inligting deurgewerk word. Dit bevat agendas van verskillende vergaderings wat oor die naam van die dorp besluit het, die persone op die komitees en rade en ander tersaaklike inligting. “Ons neem die naam op hersiening. Ons moet nou die 2 000 blaaie deurlees (dis ongelooflik baie werk!) en ‘n rekord vir die hof saamstel en ons beëdigde verklaring aanvul waar nodig,” sê mnr. André Naudé, die VV se voorsitter. Daarna moet die respondente antwoord en dan kan die saak op die hofrol kom. “Dit kan so middel volgende jaar gebeur as ons gelukkig is,” sê Naudé.
Die VV het reeds op ‘n vergadering in Junie 2012 ‘n mandaat van hul lede gekry om die naamsverandering, sowel as die kuns en kultuurminister se verwerping van die VV se beswaar, op hersiening te neem na die Noord-Gauteng Hooggeregshof, die appèlhof en die konstitusionele hof, indien nodig.
In Junie vanjaar is dit bekendgemaak dat die konstitusionele hof nou die hoogste gesag in die land is met alle sake en nie net grondwetlike sake nie. Die appèlhof is onderhewig aan die konstitusionele hof. Daar kan in enige saak van die appèlhof na die konstitusionele hof geappelleer word. Sommige mense wat die naamsverandering tersyde gestel wil hê, is bekommerd daaroor dat die konstitusionele hof “uitvoerende gesag georiënteerd” is. Me. Inga Gilfillan, sekretaresse van die VV, is optimisties dat die konstitusionele hof mense se regte en verpligtinge aanspreek.
Wat die tweede naamsaak betref, sê Gilfillan: “Die prokureurs en advokate sê ons het ‘n beter kans as die vorige keer.”
Die Makhado Munisipaliteit het tydens die naamsverandering bekendstellingsfunksie op 29 September verlede jaar hul vreugde oor die naam Makhado te kenne gegee en ook hul voorneme afgekondig om straatname te verander.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
