

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 November 2013
‘n Sakeman van Makhado (Louis Trichardt), mnr. Jacobus Christiaan Oosthuysen (52), alombekend as Jack, is onskuldig bevind op ‘n aanklag van diefstal na meer as twee jaar van “hel en vernedering” wat hy deurgemaak het.
“Hoewel ek geweet het dat ek onskuldig was, het dit vir my gevoel asof die hele dorp my reeds veroordeel het,” het Jack hierdie week gesê. Die Oosthuysen-egpaar sê dat hulle die aand na die uitspraak vir die eerste keer in maande deurgeslaap het.
“Mnr. Oosthuysen is gister [Maandag] onskuldig bevind nadat die hele verhoor afgehandel is. Die hof het hom onskuldig bevind en hom ontslaan. Die enigste getuie wat mnr. Oosthuysen geïmpliseer het, was mnr. Jacques Julian Koch (36). Die hof het bevind dat mnr. Oosthuysen nie skuldig bevind kon word op die getuienis van mnr. Koch nie. Die hof het nagenoeg 32 redes gehad waarom mnr. Koch se getuienis nie aanvaar kan word nie. Die saak is afgehandel en kan nie weer heropen word nie; die staat kan nie appelleer nie,” het advokaat Jan Nel op 29 Oktober gesê. Nel het namens Oosthuysen opgetree. Die uitspraak is deur streekslanddros Pat Cloete gegee.
Koch is in Augustus 2011 gevangenisstraf opgelê na aanleiding van ‘n klag van diefstal van meer as R200 000 wat by Bridge Motors vermis geraak het. Koch was ‘n verkoopsman by die tweedehandse voertuie-afdeling van Bridge en Oosthuysen die bestuurder. Koch het Oosthuysen geïmpliseer deur te sê dat hulle saam met die vermiste geld gaan dobbel het. In ‘n latere verklaring het Koch gesê dat hy van die gesteelde geld gebruik het om vir homself dwelms te koop.
“Ek het saam met hom gaan dobbel, ja. Die laaste keer was in Junie 2010. Ek het eers einde Julie uitgevind van die gesteelde geld toe sy vrou my gebel het en gesê het hy het verdwyn met baie geld,” sê Oosthuysen. Kliënte het begin kla dat hulle geld aan Koch oorbetaal het vir motors wat hulle gekoop het, sonder dat hulle ooit die motors ontvang het. Volgens Oosthuysen kom Koch Desember uit die tronk.
Intussen het dit vir die Oosthuysen egpaar gevoel asof hulle in ‘n tronk was en het hulle baie lyding deurgemaak. “Jack het in 1978 hier gematrikuleer. Sy familie se naam is deur die modder gesleep. Hy het ‘n hartoperasie in 2003 ondergaan en ook opgehou rook. Met al die spanning het hy weer begin rook. Die finansies het opgeraak. Jack moet elke jaar die spesialis gaan sien en gesond eet. Waar was die geld vir gesonde kos en vir dokters? Hy moet genoeg rus. Hy kon nie in die nagte slaap nie,” sê sy vrou Linda.
“Dit was ‘n sielswroeging in die ergste graad,” sê Jack, wat altyd ‘n passie vir gholf gehad het. “Mense het hulle rug op my gedraai. Ek het opgehou gholf speel. Mense het my as ‘n skelm beskou. As ek sigarette wou gaan koop, het ek dit laatnag gedoen, sodat niemand my moes sien en weer anderkant toe kyk nie. Gelukkig bly ons uit die dorp op ‘n plaas,” sê Jack. Hy het met wyle Jan Brink gesels ‘n ruk voor dié se selfmoord. Dit was vir hom hartseer dat hy nie eers na sy vriend se begrafnis kon gaan nie, want dit steur die mense as hulle hom sien en hom wil vermy. “As dit nie vir die Here was nie en as ek nie vir Linda gehad het nie, was ek weg. Tydens die saak het ek elke oggend gebid, ‘Here gee my net vrede en gee my krag dat ek nie doodgaan voordat die waarheid uitkom nie’, ” sê Jack.
“As Jack se naam net kan skoon kom en mense kan weet hy is onskuldig!” is die kreet uit Linda se hart. "Daar was wel mense wat in Jack se onskuld geglo het en ons bygestaan en vir ons gebid het. Vir hulle sê ons baie dankie," sê Linda.
Oosthuysen het ‘n paar werksaanbiedinge gekry en weer verloor toe hy verhoorafwagtend was. “Ek weet nie wat nou gaan gebeur nie. Ons bid vir ‘n wonderwerk wat inkomste betref. Ek dobbel nie meer nie,” sê Jack, wat vir die eerste keer in ‘n lang tyd met ‘n glimlag die dorp binnegery het.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
