

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 April 2002
PIETERSBURG – Holtman Fourie, losskakel vir Louis Trichardt se eerste rugbyspan, is verlede Woensdag (10de) deur 'n dissiplinê komitee van die Blou Bulle Rugby-unie onskuldig bevind op klagte dat hy homself skuldig gemaak het aan 'n ontoelaatbare duikslag in die omstrede eerstespan-wedstryd tussen Louis Trichardt en Pietersburg Dorp op 23 Maart.
Tydens Fourie se verskyning is daar aan die hand van 'n wedstrydvideo bevind dat Fourie se duikslag op die Pietersburg-vleuel, De Wet Venter, inderdaad nie hoog of laat was nie. Venter se besering is toegeskryf aan die manier waarop hy geval het na die duikslag. Hy is in 'n bewustelose toestand oorgeplaas na die intensiewe eenheid van die Pietersburg Privaathospitaal. Teen druktyd is verneem dat sy toestand steeds ernstig is en dat hy nog nie sy bewussyn herwin het nie.
Drie van Louis Trichardt se spelers, Werner Breytenbach, Jorrie Jordaan en Holtman Fourie het tydens dié wedstryd rooikaarte ontvang vir ondermeer 'n bakleiery en ontoelaatbare duikslae, terwyl een speler van Pietersburg, Adriaan Venter, ook 'n rooikaart ontvang het vir bakleiery. Klagte van wangedrag is ook teen die afrigter van Louis Trichardt se tweede span, Tjorra Nagel, en mnr. Corrie Dercksen in sy hoedanigheid as voorsitter van die klub gelê.
Al die spelers, asook Nagel en Dercksen het op 27 Maart die eerste keer voor die dissiplinêre komitee verskyn. Tydens dié geleentheid is Breytenbach en Venter vir hul aandeel in 'n vuisgeveg vir vier weke geskors, waarvan twee weke opgeskort is. Jordaan het op sy beurt skuld erken ten opsigte van 'n ontoelaatbare duikslag en het 'n ernstige waarskuwing ontvang. Nagel het 'n agtien maande opgeskorte vonnis ontvang op voorwaarde dat hy homself nie weer in dié tydperk skuldig maak aan 'n soortgelyke oortreding.
'n Speler van Pietersburg het na die wedstryd 'n onsmaaklike opmerking gemaak ten opsigte van een van Louis Trichardt se spelers wat die oggend begrawe is, waarna Nagel en hy handgemeen geraak het. Dercksen en Fourie se sake is nie tydens dié geleentheid aangehoor nie, maar is uitgestel 10 April. Fourie is egter onbepaald geskors hangende die bevinding van die komitee. Sy skorsing is na die komitee se bevinding verlede week onmiddelik opgehef. Met betrekking tot Dercksen se saak het die komitee besluit om nie dissiplinêr teen hom op te tree nie. Hulle het gevoel dat rugby as sportsoort niks daarby sal baat nie en dat die twee klubs eerder hul probleme met mekaar moet bespreek en uitsorteer.
'n Mediese fonds is intussen gestig vir die beseerde De Wet Venter waarin belangstellendes inbetalings kan doen. Die rekeningnaam is die De Wet Venter Mediese Rekening, ABSA Bank Randburg. Die rekeningnommer is 4055222025.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
