

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 November 2013
Soms, as jy gelukkig is, kan jy glo die spook sien wat ‘n intrek geneem het in die ou statige huis aan die bo-punt van Snymanstraat hier in Makhado (Louis Trichardt).
Altans, dit is hoe die storie een aand om ‘n braaivleisvuur vertel is. Ja, word daar vertel, op ‘n donker aand, reg op die voorstoep van dié huis, sit daar ‘n bejaarde tannietjie. Sy het lang, los hare, en sit altyd en tuur oor haar tuin met haar twee honde om haar geselskap te hou.
As mens eers begin rondvra, vind jy uit dat dit glo al vir jare by dié huis spook, selfs in die dae wat dit nog bewoon was. Die jonger geslag van die dorp sweer hoog en laag hulle het dié spooktannie al gesien. Ouer inwoners is meer skepties. “Ek sal jou sê hoekom mense dink dit spook dáár,” het een oom gesê. “Ek was in die aand al daar en daar is rotte in daai huis.”
Met al hierdie inligting was die enigste uitweg om self te gaan ondersoek te stel. So gesê, so gedaan en die spookhuis is besoek – tydens volmaan – en dit was hoofsaaklik vir veiligheidsredes...
Die maan se skadu hang oor die ou huis, waarin een van die Soutpansberg se oudste en mees legendariese inwoners, tannie Betty Noakes, tot haar afsterwe in 2011 gewoon het. Voor die huis, met die verroeste rooi-bruin sinkdak, lê ‘n gesneuwelde wildevy. Hy moes in vervloë dae pragtige skaduwee oor die massiewe tuin gegooi het, wat ‘n asemrowende uitsig oor die dorp se gholfbaan gee.
Met sy rondomstoep en statige trappe wat tot by die reuse ou houtvoordeur lei, verbeel mens jou maklik jy’s in ‘n tyd toe Louis Trichardt ‘n toestroming van Britse koloniale setlaars beleef het. Vandag is die gapende vensters getuienis dat daar niemand meer in die huis bly nie.
Krakende houtvloere, wat plek-plek vrot en waarop ‘n mens maar versigtig moet trap, laat mens egter begin wonder oor spoke. Elke geluid van die huis stuur tog maar ‘n rilling teen ‘n mens se ruggraat af. Die huis is eenvoudig ontwerp. Aan die een punt van die gang is die voordeur, en aan die onderste punt die agterdeur. Weerskant van die gang is daar vier vertrekke, een met ‘n kaggel met leë boekrakke aan weerskante. Gelukkig vir die volmaan, want elke kraak van daardie vloer laat mense se hare regop staan van skrik.
In die dag is daar niks onheilspellend aan die huis nie. Dié huis, wat bekend staan as Stonehenge, dateer uit die 1800’s en is tot ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Dit was vir dekades lank die tuiste van tannie Betty.
Tannie Betty het gedurende 1924 saam met haar ouers, Cyril John Laugham en Ethal May Noakes, na Louis Trichardt verhuis. Vóór die Noakes-gesin hulle intrek geneem het in Stonehenge, het die huis glo aan ‘n mev. Johanna Stevens behoort. Dit is volgens Johann Tempelhoff se boek Townspeople of the Soutpansberg. Stonehenge is gedeeltelik deur mev. Stevens en haar man Russell gebou op die plaas Highlands.
Mev. Stevens, wat glo ‘n vurige Ierse dame was, het Stonehenge behou nadat sy van haar man geskei is. Sy het glo nie baie gehad om van te leef nie, behalwe die lemoenboord en ‘n paar vrugtebome in die tuin. Sy het drie seuns en ‘n dogter gehad, en wou nooit van die huis afstand doen nie. Uiteindelik moes sy glo die huis op ‘n veiling verkoop, en so het Stonehenge in die besit van tannie Bettie se pa gekom.
Tannie Betty was ook ‘n groot diereliefhebber, en besoekers aan haar huis is altyd begroet deur haar lieflinghonde. ‘n Artikel van Retha Fourie, wat in 2002 in Beeld verskyn het, beskryf die waardige gryskop tannie en haar honde by wie mens kon aanklop en oor Stonehenge se geskiedenis gesels oor ‘n koppie tee.
Kan dit dan wees dat die berugte “Spook van Stonehenge” dan nie maar net tannie Betty in lewende lywe was nie? Nee wat, lag die nuwe eienaar van die huis, mnr. Eddie da Silva. “Ek sal jou sê wat dit is; dit is plaaslike kinders wat hier kom drink en fuif,” sê hy terwyl hy saam met my deur die huis stap. Hy het Stonehenge op ‘n veiling gekoop na tannie Bettie se afsterwe, en het groot planne om die huis op te knap. Da Silva het intussen ‘n opsigter aangestel om die huis te beskerm teen kwaaddoeners.
Daar lê ‘n gebreekte brandewynbottel by die kaggel, en al groter word die wonder of daar wel ‘n spook is…
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
