

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 April 2002
LOUIS TRICHARDT – Vliegtuigentoesiaste sal op 4 Mei 'n lugskou met 'n verskil kan bywoon, aangesien al die vliegmasjiene afstandbeheerde modelvliegtuie sal wees.
Die lugskou word aangebied deur die Soutpansberg Model Vliegklub en beloof 'n skouspel van vlieg en vermaak soos min. Dit word aangebied in samewerking met ten minste tien ander klubs van onder meer Pietersburg en Gauteng.
Vliegvertonings met helikopters, regte turbine-aangedrewe spuit-vliegtuie, akrobatiese kunsvlieg en replikas van bestaande groot vliegtuie, is maar 'n paar van die aktiwiteite en besienswaardighede waarna besoekers kan uitsien.
Daar sal ook die dag 'n vlooimark aangebied word met hope stalletjies, insluitende modelvliegtuig-stalletjies. Die plaaslike kerke sal op hulle beurt sorg vir genoeg eetgoed, terwyl daar ook 'n biertuin en koeldrankstalletjie sal wees.
Die lugskou sal by die dorp se lughawe op die Vivo-pad aangebied word, en begin om 09:00. Toegang kos R2 per kind en R5 per volwassene.
Vir meer inligting, skakel Johan Botha by tel. (015) 516 1455 of Floris of Bianca by 083 297 7274.

ADVERTISEMENT:
