ADVERTISEMENT:

 

“Ek is al uit die dorp, maar ek sal omdraai en vir jou water bring. Maar wat gaan jy my betaal?” was die woorde wat mnr. Phillip van Schalkwyk (foto) moes aanhoor toe hand bygesit het om die watertenk van die kompleks waar hy ‘n kantoor huur, vol te kry.

Moet daar nou ekstra vir water betaal word?

 

News  Date: 08 November 2013

 

Asof ‘n gebrek aan munisipale water nie genoeg ontbering meebring nie, moes ‘n inwoner van Makhado (Louis Trichardt) hoor dat hy moet “betaal” sodat water vir hom aangery kan word.

“Ek is al uit die dorp, maar ek sal omdraai en vir jou water bring. Maar wat gaan jy my betaal?” was die woorde wat dié inwoner erg geskok het. Hy was onder die indruk dat hy met die drywer van die munisipale watertenker praat.

Mnr. Phillip van Schalkwyk, wat ‘n kantoor in die Vleissentraal-gebou in Erasmusstraat huur, sit gereeld ‘n handjie by om seker te maak dat die kompleks se watertenk vol bly. Hy vertel dat hy ‘n vorige keer persoonlik na mnr. David Mukosi gegaan het en dié baie behulpsaam was, alhoewel hy onder groot druk was om na talle gebiede watertenkers te stuur.

Die tenk het toe stelselmatig leeggeloop en op 24 Oktober het Van Schalkwyk weer vir waterdienste bestuurder Mukosi geskakel. “Hy was egter met verlof, maar ek het ‘n munisipale watertenker raakgeloop en met die persoon wat besig was om aan die aansitter van die voertuig te werk, gepraat. Hy het my verwys na ‘n persoon wat na die tenker aangestap gekom het,” sê Van Schalkwyk, wat sy werksadres verskaf het. Daarna was hy ‘n ruk elders met ‘n kliënt besig en by sy terugkeer na die kantoor vind hy ‘n papiertjie met die naam “Nico Muladi” en ‘n nommer daarby. Dit is toe hy “Nico” skakel dat hy hoor hy sal moet betaal. “Ek het hom gevra of ek dan nou vir die water moet betaal en hy het gesê, nee, vir die diesel. Ek is oortuig daarvan dat die gebou-eienaar genoeg belasting en heffings betaal en ek het sy aanbod van die hand gewys,” het Van Schalkwyk gesê.

Mnr. Mukosi en nog ‘n munisipale beampte het Van Schalkwyk op 3 November besoek. “Dit is totaal onhoudbaar dat daar geld vir die aflewering van water gevra word. Dit is nie volgens ons beleid nie,” het Mukosi gesê. Nadat hulle dieper op die saak ingegaan het, het dit aan die lig gekom dat Muladi nie in diens van die munisipaliteit is nie. “Ons gebruik glad nie sub-kontrakteurs vir die aanry van water nie,” het Mukosi gesê. Hy het Muladi geskakel, wat vir hom gesê het dat hy die voorval onthou en dat hy gedink het dat hy vir iemand van die munisipaliteit moes water bring.

Mukosi het gesê dat inwoners welkom is om hom persoonlik te skakel vir die uitstuur van watertenkers, om voorvalle soos dié waarin Van Schalkwyk betrokke was, te verhoed. Sy nommer is 082 941 8171.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines