

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 November 2013
Hy het gelewe vir sy gesin, musiek en die natuur.
Só sal nie net oom Daan Snyman se familie hom onthou nie, maar ook sy vriende. Oom Daan is Saterdag, 2 November, in die ouderdom van 68 in sy slaap oorlede ná ‘n hartaanval. “Nou is die huis leeg en stil sonder hom,” het sy eggenote, Anna, Maandag gesê.
Daan en Anna het ‘n unieke liefde gedeel gedurende die 14 jaar wat hulle getroud is. Die egpaar, wat in Pretoria ontmoet het, is op 14 April 2002 getroud waarna hulle verhuis het na Louis Trichardt, waar Anna gebly het. Gedurende hierdie tyd het oom Daan ‘n boek geskryf vir sy Anna. “Hy was ‘n man wat met sy hele hart en siel liefgehad het,” het Anna gesê.
Oom Daan, wat in Zeerust op 26 Julie 1945 gebore is, was deel van ‘n baie unieke tweeling. Hy en sy tweelingbroer, Peet, was een van net sewe stelle tweelinge in die wêreld wat in 1945 gebore is toe vier planete in lyn was. Verskeie artikels het al verskyn oor die tweelingbroers se unieke breinkommunikasie met mekaar. Die tweelingbroers kon mekaar se gedagtes, myle van mekaar af, lees en so lang gesprekke hê.
In Februarie 1976 het Peet sy linkeroog verloor in ‘n motorongeluk. In Oktober dieselfde jaar het oom Daan ook sy linkeroog verloor. Buiten vir hulle unieke kommunikasievermoë was oom Daan ook ‘n begaafde musikant. Gedurende die sewentigerjare het hy saam met Peet en Wessel Kleinhans die musiekgroep Melodie 3 gestig, wat verskeie langspeelplate opgeneem het, en latere jare ook CD’s.
“Hy het altyd musiek gemaak,” het Anna gesê.
Oom Daan word ook oorleef deur sy vier dogters Marensha, Elsie, Santie en Martie, asook sy stiefseun Kobus en 10 kleinkinders. ‘n Roudiens is Woensdag vanuit die AP-kerk Louis Trichardt vir oom Daan gehou.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
