

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 November 2013
Die tragiese dood van mnr. Pieter Pretorius (65) laat nie net ‘n groot leemte in die lewens van sy familie nie, maar ook in die gemeenskap.
Pieter is verlede Vrydag in ‘n fratsongeluk op sy plaas dood, terwyl hy besig was met opruimingswerk na die verskriklike windstorm. “Dis so moeilik om woorde te gee aan ‘n man wat so hemelsgroot was vir almal om hom,” het Pieter se dogter, Marelise, Dinsdag gesê. “My pa sal onthou word met groot deernis as ‘n mentor vir vele mense, iemand wat onbaatsugtig gehelp het waar hy kon.”
Pieter Andries Pretorius is gebore op 27 September 1948, die derde van ses kinders. Hy was vier jaar oud toe hy saam met sy ouers na Levubu verhuis het. Na skool het Pieter BCom (rekenkunde) aan die Universiteit van Pretoria geswot. Hier het hy ook sy vrou, Linda, ontmoet en vier kinders is uit hulle huwelik gebore.
Die gesin het hulle in 1985 weer in Levubu kom vestig, waar hulle geboer het, terwyl Pieter ook ‘n praktyk as geoktrooieerde rekenmeester in Makhado (Louis Trichardt) bedryf het. Die praktyk het hy nog bedryf tot sy skielike afsterwe.
Pieter, vertel sy familie, is geken aan sy nederigheid, eerlikheid, hardwerkendheid, en ‘n vaste vertroue en geloof in sy Hemelse Vader wat hy met liefde gedien het. “Sy lewe het om sy gesin gedraai, en hy was die rots in ons lewe,” het Marelise gesê.
Die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU) het ook hulle innige medelye uitgespreek teenoor Pretorius se familie. “Ons wens sy familie sterkte en krag toe in dié moeilike tyd. So ‘n besonderse mens sal gemis word en sy bydrae tot die gemeenskap lê vasgemessel in die gemeenskap … ons treur saam met die gemeenskap oor ‘n man wat ‘n beduidende impak op sy gemeenskap gemaak het,” het die SDLU voorsitter, mnr. Stephen Hoffman, gesê.
Pieter laat sy vrou Linda, drie kinders Liezel, Marelise en Pieter, twee skoonseuns en ses kleinkinders agter. Hy sal Dinsdag, 12 November, vanuit die NG Levubu-gemeente begrawe word.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
