ADVERTISEMENT:

 

Ondernemings in Makhado (Louis Trichardt) het ook deurgeloop tydens Donderdagaand se windstorm, soos Midas hier in Songozwistraat. Foto verskaf.

Woeste windstorms veroorsaak chaos

 

News  Date: 08 November 2013

 

Verlede week se hewige wind- en haelstorms het behoorlik verwoesting gesaai oor die hele Soutpansbergstreek, met berigte van stormskade wat teen druktyd steeds ontvang is.

Dié vernietigende storms het ook die lewe geëis van ‘n boer in die Levubu-omgewing. Mnr. Pieter Pretorius (65) was verlede Vrydag besig om ‘n boom op te saag wat deur die nag omgewaai is en op die huis geval het. “Ons weet nie presies hoe dit gebeur het dat die boom op Pieter geval het nie – dit was ‘n fratsongeluk,” het ‘n jarelange vriend van Pretorius, mnr. Stephan Hoffman, vandeesweek aan die Zoutpansberger gesê. Hoffman is ook die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-Unie.

Donderdag se stormwinde is Vrydag opgevolg deur ‘n haelstorm. Volgens wat vasgestel kon word, het die storm oor die Makhado- (Louis Trichardt), Levubu- en Waterpoort-area getrek. Donderdagaand se sterk winde het ‘n massiewe kragonderbreking veroorsaak en Dinsdag hierdie week het die Makhado Munisipaliteit steeds gesukkel om die kragtoevoer te herstel na verskeie dele van die dorp en Levubu. Meeste boere en inwoners moes staatmaak op kragopwekkers.

Die Zoutpansberger het Vrydag besoek afgelê op verskeie plase in die Levubu-omgewing. Orals langs die pad was stormskade sigbaar. "Dit lyk of ‘n trop olifante deur my piesangboorde getrek het,” het Hoffman gesê. “Dit was ‘n mini-orkaan.”

Dié mini-orkaan het kol-kol oor Levubu getrek. Party plase, soos die van Fürstenburg Boerdery, het redelik ongeskonde daarvan afgekom. Ander plase soos dié van Latananda het egter veel meer skade opgedoen. Dáár is piesangbome met trosse en al platgewaai. Vyf-en-twintig-jaar-oue makadamiabome is ook teen die grond afgebreek in die storm.

Volgens Hoffman het die storm tweeledige skade aangerig. Eerstens was daar skade aan strukture en dan aan oeste. Groot dele van verlede week se bemarkbare oes is tot niet, òf weens die gebrek aan elektrisiteit om rypmaakkamers te dryf, òf as gevolg van trosse wat merke opgedoen het. Tweedens, het Hoffman verduidelik, is dit in hierdie stadium baie moeilik om skade op makadamias en advokadopere te bepaal. “Dit sal mens eers werklik kan uitwerk as die oes inkom,” het Hoffman gesê.

Mnr. Fritz Ahrens van die plaas Sterkstroom (Pieshanghoek) op die Levubu-pad het gesê daar is groot dele van sy makadamianeute wat afgewaai is. Dié neute sou in Januarie geoes word. “Ons sal nou maar moet sien of die oorblywende neute aan die bome gaan ryp word,” het Ahrens gesê. Hy het bevestig dat hy sowat 12mm reënval gemeet het op sy plaas, ná die storm.

Boere in die Waterpoort-omgewing het vir Donderdag en Vrydag ongeveer 24mm reën gemeet. Daar het die windstorm ook groot skade aangerig. Mnr. Henning Botha was Dinsdag besig om sy spanspekoes “te pak dat die biesies bewe.” Hy meen die stormwinde het nie soveel skade aangerig as die haelstorm van Vrydag nie. Ten spyte hiervan het hy gesê die boere is dankbaar vir die reënval. “Ek wens jy kon die gras sien vandag; dit is darem te mooi soos die wêreld nou hier groen staan,” het hy gesê.

Hoffman het hierdie woorde beaam. “Die skade wat die storm aangerig het, was nie vernietigend nie. Ek dink boere sal dit kan absorbeer en deurtrek,” het hy gesê. Hoffman meen eerder dat boere en inwoners gefaal is deur die Makhado Munisipaliteit. “Ons het nou weereens die munisipaliteit se onvermoë ervaar tydens die kragonderbrekings.” Beter instandhouding van die kragnetwerk sou die kragkrisis afgeweer het, het Hoffman gemeen.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines