

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 July 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die Voorsittersvereniging het die Nasionale Kommissaris van die SAPD versoek om ‘n formele ondersoek te loods na aanleiding van die polisie se onprofessionele optrede op 1 April toe ‘n gemeenskap in rou op ondeurdagte wyse deur hulle hanteer is.
Die voorsittersvereniging (VV) het in ‘n brief, gedateer 15 Junie, ‘n formele klag gelê. Die VV versoek terugvoer, asook ‘n openbare verskoning aan die publiek, indien die ondersoek onprofessionele optrede sou uitwys.
Die voorvalle waarna verwys word, het plaasgevind tydens ‘n goedgekeurde protesoptrede by die N1/Stubbsstraat-kruising na die dood van Dewald (12) en Chantelle du Preez (8). Die twee kinders het die vorige week daar verongeluk toe ‘n wegholvragmotor deur die kruising gejaag en die kinders agter op ‘n bakkie doodgery het.
Die gemeenskap van Louis Trichardt het spontaan besluit om toestemming te kry vanaf die munisipaliteit om ‘n protesoptrede te reël, waartydens ‘n versoekskrif aan dr. Farisani, destydse LUR van die Departement van Vervoer, oorhandig is. Die versoekskrif het gehandel oor probleme met swaarvoertuie op die N1 oor die Soutpansberg.
Die VV het hulle besorgdheid verklaar oor die "wyse waarop Kommissaris Van Wyk (van Polokwane), en sy mense onder sy beheer, opgetree het op 1 April 2004 toe die gemeenskap van Louis Trichardt deur hulle hanteer is."
Die brief beskryf die voorval waar die polisiebeamptes van Polokwane twee trekkers by die vierrigting stop tot stilstand gebring en laat afskakel het, "wat blykbaar duidelik op videobande blyk." Kommissaris Van Wyk het egter ontken dat hy, of enige van sy mense, die trekkers afgeskakel het. Met die afskakeling van die trekkers het die verkeer tot stilstand gekom en het hulle voor die voet mense wat in die verkeerslyn beweeg het, gearresteer. Lede van die publiek sou sogenaamd mense intimideer en die verkeer tot stilstand bring.
"Dié klagtes is eers na inhegtenisname, en sonder dat ‘n behoorlike arrestasie-prosedure gevolg is, uitgedink," lees die skrywe.
Die polisiebeamptes van Polokwane het hulle ook, na bewering, skuldig gemaak aan die gebruik van onwelvoeglike taal.
"Toe die aanklaer vir Kommissaris Van Wyk daarop wys dat hierdie tipe oortredings nié arrestasies en borgaansoeke regverdig nie, maar bloot ‘n waarskuwing om in die hof te verskyn, het hy die Aanklaer gedreig dat, indien die Aanklaer die mense net waarsku, of alternatiewelik net die saak sou terugtrek, hy die groep mense weer buite die hof sou arresteer en dan geen borg vir hulle sal laat toestaan nie en hulle in die tronk sou aanhou," word in die brief verduidelik.
In teenstelling met Van Wyk en sy beamptes se optrede, is daar ook melding gemaak van die Louis Trichardt polisie se beheerste en simpatieke optrede.
Die voorsittersvereniging beskou hierdie aangeleentheid in so ‘n ernstige lig dat hulle ‘n mandaat gekry het om ‘n formele klagte in te dien en te vra dat daar ‘n ondersoek gelas word na die optredes van Van Wyk en sy polisiebeamptes, "met gevolglike dissiplinêre stappe wat teen hulle geneem moet word, indien nodig."
Die VV het ook volledige kommentaar aangevra oor die bewering dat die dossiere met die klagtes wat teen hierdie polisielede gelê is, op aandrang van Kommissaris Van Wyk, aan homself oorhandig is vir verdere ondersoek. Die VV wil weet "of dit waar is, aangesien dit absoluut nie aanvaarbaar is, as dit waar sou wees, dat ‘n persoon in beheer gestel word van die dossiere waar hyself en sy afdeling van oortredings beskuldig word nie."
Buiten die brief aan Nasionale Kommissaris Julius Weideman, is daar ook kopieë aan Advokaat F. de Beer, Direkteur van Openbare Vervolging, en Kommissaris Charles van Wyk self gestuur.
In ‘n verwante voorval die dag van die protesoptrede, toe ‘n lid van die plaaslike media met fisiese geweld gedreig is deur ‘n lid van Van Wyk se eenheid, word klagtes ook op hoë vlak ondersoek teen Van Wyk se herhaaldelike weiering om die lid aan te spreek en teen hom op te tree. Dit is buiten die klagtes teen die lid self. Dié aangeleentheid is reeds by die Direkteur van Openbare Vervolging aanhangig gemaak, maar tot op hede was daar nog geen terugvoer nie, anders as dat die saak aandag geniet. Die voorval is deur media-instansies, asook onder meer die Freedom of Expression Institute and SANEF (South African National Editors Forum) as ‘n klap in die gesig van persvryheid bestempel. Hulle het ook hul kommer uitgespreek oor die feit dat die owerhede so lank sloer met die ondersoek na die voorval.

ADVERTISEMENT:
